Nuus 14:00
BULLETIN 16 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier prys Malema se vonnis as ‘n bevestiging van die integriteit van die regstelsel
# COSATU vra groter regerings-ingryping om die ekonomie te beskerm teen die Midde-Oosterse oorlog
# En sokker: Durban City en TS Galaxy meet op 2 Mei kragte in die die Nedbankbeker-eindstryd
# DA-leier Geordin Hill-Lewis verwelkom die vonnisoplegging in EFF-leier Julius Malema se vuurwapensaak en sê dit versterk die oppergesag van die reg en bewys niemand is bo die Grondwet verhewe nie. Hy sê vuurwapen-geweld bly ‘n ernstige probleem en onwettige vuurwapenmisdrywe moet sterk gevolge dra. Hill-Lewis voeg by die vonnis van vyf-jaar regstreekse tronkstraf is ‘n positiewe stap om aanspreeklikheid te versterk en openbare vertroue in die regstelsel te herstel:
# Cosatu vra groter regerings-ingryping om die ekonomie te beskerm teen die verwagte verdere gevolge van die Midde-Oosterse oorlog. Die vakbondfederasie sê die jongste berigte van die Sentrale Energiefonds dui daarop dat petrolpryse volgende maand met drie-rand per liter gaan styg, diesel met tien-rand en lampolie met sewe-rand. Woordvoerder Matthew Parks sê dis nog ‘n terugslag vir die ekonomie wat die afgelope dekade met ‘n skamele een-persent per jaar groei:
# Die DA in Tshwane wil ‘n beslissende mandaat in die plaaslike regeringsverkiesing kry om die grootste party in die hoofstad te word. Die party se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, sê Tshwane is lamgelê weens koalisie-chaos en die voortdurende verandering van burgemeesters. Hy sê dis belangrik om Tshwane weg te neem van kaders, kamerade en tenderpreneurs wat persoonlike gewin belangriker as openbare diens ag om die hoofstad aan die werk te kry:
# Die Departement van Binnelandse Sake sê daar is geen verandering in beleid ten opsigte van houers van Zimbabwiese vrystellingspermitte nie. Dit volg op verwarring weens nuusberigte oor opmerkings van adjunkminister Njabulo Nzuza tydens ‘n televisie-onderhoud. Hy het beweer dat permithouers nou kan aansoek doen om permanente verblyfreg in Suid-Afrika. Die departement sê huidige permitte bly geldig tot Mei volgende jaar ingevolge die verlenging wat in Junie verlede jaar toegestaan is, en permithouers kwalifiseer nie vir permanente verblyfreg nie.
# Sokker: Die Premierliga het bevestig die eindstryd van die Nedbankbeker sal op die tweede van volgende maand op die Peter Mokaba-stadion in Polokwane, Limpopo, beslis word. Die wedstryd tussen Durban City en TS Galaxy begin om sesuur. Kaartjies is reeds beskikbaar by verkooppunte in Shoprite-, Checkers- en USave-winkels, teen 50-rand elk. Die PSL moedig sokkerliefhebbers wat die wedstryd wil bywoon aan om so gou moontlik kaartjies te koop vir die wedstryd wat beskryf word as ‘n onvergeetlike geleentheid op die Suid-Afrikaanse sokkerkalender.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-467-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-809-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….