Nuus 14:00
BULLETIN 13 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# United Africans Transformation verwelkom OPOD se heropening van die Phala Phala-ondersoek
# Die Wes-Kaap ontvang ‘n bykomende 50-duisend bek-en-klouseer-entstofdosisse
# En krieket: Rajasthan en Punjab is nou die enigste onoorwonne spanne in die IPL
# United Africans Transformation verwelkom die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se besluit om ondersoeke na die Phala Phala-saak te heropen. Mighty Mabule van die party sê die stap is noodsaaklik om openbare vertroue in die strafregstelsel te herstel en aanspreeklikheid te verseker ongeag status. Hy bepleit ‘n deeglike, onpartydige en spoedige ondersoek en vra owerhede en die Parlement om sonder inmenging op te tree. Mabule sê Suid-Afrikaners verdien volle aanspreeklikheid in die saak:
# Die Wes-Kaap het ‘n bykomende 50-duisend entstofdosisse ontvang om die voortdurende bek-en-klouseer-uitbreking te bestry. Sedert die begin van die inentingspoging is meer as 155-duisend dosisse by 629 terreine toegedien, ondersteun deur 29 privaat veeartse. Premier Alan Winde sê die jongste besending sal die poging om die provinsie se hele kudde in te ent, verder versterk en is van uiterste belang om die ekonomie te beskerm. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê hulle fokus steeds op die versterking van stelsels wat dierebeweging monitor en bestuur.
# Die GOOD-party sê Stad Kaapstad moet verduidelik onder watter wettige gesag Amerikaanse mariniers metropolisie-rekrute op die Muizenbergse strand oplei. Jonathan Cupido van die party bevraagteken die polisie se opleidingstandaarde en vra ook of die nasionale kommissaris die reëling goedgekeur het. Hy vra duidelikheid of die program meer as fiksheidsopleiding behels, oor die ooreenkoms wat dit beheer, en wie dit gemagtig en befonds het:
# Die Departement van Justisie sê adjunkminister Andries Nel is ‘n Suid-Afrikaanse burger en het nog nooit burgerskap van ‘n ander land gehad of aansoek gedoen daarvoor nie. Dit volg op berigte waarin minister John Steenhuisen se vorige personeelhoof, Roman Cabanac, se regsverteenwoordiger, Carel Crafford, beweer het verskeie staatsamptenare, insluitend Nel, het dubbele burgerskap. Die departement sê Nel is in New Orleans in Amerika gebore as die kind van Suid-Afrikaanse diplomate, en kinders van geakkrediteerde buitelandse diplomatieke amptenare in Amerika bekom nie burgerskap nie.
# Krieket: Rajasthan Royals en Punjab Kings is nou die enigste onoorwonne spanne in vanjaar se Indiese Premierliga. Rajasthan het al vier sy wedstryde tot dusver gewen, terwyl Punjab drie gewen het, terwyl een uitgereën het. Hulle word gevolg deur die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, wat een wedstryd verloor het. Delhi Capitals is vierde, gevolg deur Gujarat Titans, Lucknow Super Giants, Sunrisers Hyderabad, Mumbai Indians, Chennai Super Kings en Kolkata Knight Riders, wat nog nie ‘n wedstryd kon wen nie. Hyderabad is vandag gasheer vir Rajasthan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-740-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-713-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….