Nuus 14:00
BULLETIN 8 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi bevestig die verspreiding van die lenacapavir-inspuiting ná ‘n komende bekendstelling
# ActionSA doen regstappe teen minister Tolashe oor onverklaarde geskenke
# En rugby: Ma’a Nonu is geskors na ‘n gevaarlike duikslag op Wandisile Simelane van die Stormers
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê ‘n tweejaarlikse MIV-voorkomingsinspuiting sal ná die bekendstelling versprei word na 350 oorbelaste gesondheidsgeriewe. Altesaam 37-duisend-920 dosisse het vanaf Ierland aangekom. Die middel, wat Gilead Sciences ontwikkel het, is daarop gemik om voorkomingskeuses uit te brei en nakoming te verbeter. Motsoaledi sê dit sal kwesbare groepe bevoordeel, insluitend sekswerkers en selfde-geslag-paartjies. Hy sê die bekendstellingsdatum word binnekort verwag, met die verspreiding wat na verwagting volgende maand sal begin. Suid-Afrika is die eerste Afrika-land wat lenacapavir versprei.
# ActionSA het ‘n strafsaak aanhangig gemaak en klagtes ingedien by die Openbare Beskermer en die Parlement se Etiekkomitee teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, oor onverklaarde luukse voertuie van ‘n miljoen-rand. Tolashe beweer Chinese amptenare het die voertuie aan die ANC-Vroueliga geskenk, maar rekords toon dis in haar kinders se name geregistreer. Woordvoerder Dereleen James vra haar onmiddellike ontslag en beklemtoon die behoefte aan strenger teen-korrupsiemaatreëls en verantwoordbaarheid:
# ‘n Dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria, Chris Isike, kritiseer die Amerikaanse president, Donald Trump, se dreigement om Iran se hele beskawing te bombardeer en uit te wis en noem dit volksmoord. Hy waarsku dit kan die gevaar van aanvalle verhoog en skend internasionale humanitêre reg. Isike voeg by die situasie is nie ‘n oorwinning nie, maar ‘n taktiese skuif, en Iraniërs moet versigtig en waaksaam bly:
Hizbollah-militante in Libanon het intussen vanoggend aanvalle op Noord-Israel en Israelse soldate in Libanon gestaak nadat ‘n skietstilstand tussen Amerika en Iran aangekondig is. Die sleuteltussenganger, die Pakistanse eerste minister, Shehbaz Sharif, sê die skietstaking van twee weke sluit Libanon in, waar ‘n nuwe oorlog tussen die Irans-gesteunde Hizbollah en Israel vroeg verlede maand uitgebreek het. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het egter gesê die wapenstilstand sluit nie Libanon in nie. Israel het ‘n nuwe ontruimingsbevel aan ‘n suidelike stad uitgereik wat aandui hy kan dit binnekort aanval.
# Rugby: Toulon pak Glasgow Warriors Saterdag in die kwarteindronde van die Kampioenebeker sonder die legendariese All Black-senter Ma’a Nonu. Die 43-jarige is vir drie weke geskors na sy geelkaart vir ‘n gevaarlike duikslag op Wandisile Simelane in Toulon se oorwinning van 28-27 oor die Stormers in die ronde van 16. Nonu se skorsing is halveer nadat hy vuilspel erken het, en weens sy goeie dissiplinêre rekord. Hy mag weer op 27 April speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-640-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-781-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….