Nuus 14:00
BULLETIN 1 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê die plaaslike verkiesingsembleem weerspieël die belangrikheid van kiesers se deelname
# Die toerismesektor bereik ‘n mylpaal van byna ‘n miljoen werksgeleenthede
# En sokker: FIFA se president sê Iran sal deelneem aan die Wêreldbeker en hul wedstryde in Amerika speel
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê die embleem van vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing weerspieël die belangrikheid van kiesers se deelname te midde van ‘n dalende opkoms. Die embleem is vanoggend onthul in Midrand, Gauteng. Die bekendstelling dui op groeiende voorbereidings vir die verkiesing later vanjaar, met ‘n spesiale kieser-registrasienaweek in Junie. Moepya vra politieke partye en die media om kiesers te betrek en ingeligte deelname aan te moedig:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, verwelkom die bevestiging dat die sektor byna ‘n miljoen regstreekse werksgeleenthede ondersteun. Statistiek Suid-Afrika sê daar was byna 954-duisend werksgeleenthede in 2024, wat 5,7-persent van die werksmag uitgemaak het. Toerisme het 4,9-persent tot die bruto binnelandse produk bygedra, wat die vlakke voor die pandemie oortref. Algehele besteding het 779,2-miljard-rand beloop, hoofsaaklik aangevuur deur binnelandse reise. De Lille sê die groei word ondersteun deur sterk plaaslike vraag en stygende internasionale aankomste. Verdere winste word verwag deur digitale visumstelsels en geteikende bemarkingsveldtogte oorsee.
# Vyf mense het vanoggend in ‘n botsing op die N1 naby Modimolle in Limpopo gesterf. Die oorsaak van die botsing tussen ‘n bakkie en ‘n motor is nog onduidelik. Nooddienste is steeds op die toneel terwyl reddingsoperasies voortduur. Verkeer word herlei, met die noordelike baan in die rigting van Polokwane wat geraak word en moontlike tydelike padsluitings wat kan volg. Owerhede sê besonderhede is nog vaag, insluitend die aantal beseerdes. Die ongeluk volg te midde van verhoogde verkeersvolumes oor Paastyd.
# Die vakbond GIWUSA het die verlaging van drie-rand per liter in die brandstofhefing vir ‘n maand verwelkom, maar sê dis nie genoeg nie. Die regering het die heffing verlaag ná samesprekings tussen die Nasionale Tesourie en die Departement van Minerale en Energiehulpbronne om druk op verbruikers te verlig en die brandstofvoorraad bestendig te hou. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê drie-rand is nie naastenby genoeg nie:
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, sê Iran sal aan die komende Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko deelneem ondanks die voortslepende geopolitieke spanning in die Midde-Ooste en Iran se huiwering om wedstryde op Amerikaanse grondgebied te speel. Die Iranse Sokkerfederasie het verlede maand gesê hy onderhandel met FIFA om die land se wedstryde van Amerika na Mexiko te verskuif. Infantino sê die skedule gaan nie verander nie, en wedstryde sal volgens die trekking gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-486-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-718-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….