Nuus 14:00
BULLETIN 30 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Medicare24 se hoof erken sy ‘dom’ optrede nadat ‘n video-opname hom wys met ‘n dik rol banknote
# Die Hooggeregshof wys Zuma en Mbeki se aansoek van die hand om regter Khampepe te laat onttrek
# En tennis: Sabalenka verstewig haar posisie boaan die wêreldranglys met haar sege in Miami
# Medicare24 se uitvoerende hoof, Mike van Wyk, erken dat hy bloot dom was om ‘n video-opname van homself met ‘n pak banknote te maak en beweer dat dit ‘n terugbetaalbare deposito van die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala was. Van Wyk beweer teenoor eNCA ook die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het gehelp om EMPD-werk te bekom. Hy hou vol hy het geen onwettige winste gemaak nie:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n aansoek van oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki van die hand gewys om regter Sisi Khampepe van die Waarheids- en Versoeningskommissie se ondersoek te laat onttrek. Hulle het vooroordeel, belangebotsing en wangedrag beweer. Hulle voer aan Khampepe se vorige rolle in die WVK en die Nasionale Vervolgingsgesag bring haar neutraliteit in die gedrang in die ondersoek na die vervolging van misdade uit die apartheids-era. Die uitspraak beteken sy sal voortgaan om voorsitter te wees van die kommissie wat vervolgings ondersoek wat stilgestaan het.
# Noordwes se Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het 129-duisend-808 van 150-duisend bek-en-klouseer-entstofdosisse gebruik wat aan die provinsie toegeken is. Noordwes het 210 bevestigde bek-en-klouseergevalle wat by sy munisipaliteite aangemeld is. Die departement se woordvoerder, Emelda Setlhako, sê hierdie syfers beklemtoon die siekte se verspreiding oor spesies en distrikte, en bevestig die dringendheid om voort te gaan met inentings:
Die DA sê intussen die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en die LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, moet burgemeesters toelaat om bek-en-klouseer-bevelstrukture op te rig wat in ooreenstemming met provinsiale pogings is. Daar is meer as 200 bevestigde gevalle in die provinsie. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê boere ondervind onsekerheid, toenemende verliese en druk, maar plaaslike regerings is nie opgewasse en betrokke om die siekte te bekamp nie:
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus het haar voorste posisie op die vroue-wêreldranglys verstewig toe sy die Miami Ope in Amerika gewen het. Die naaswenner, die plaaslike speler Coco Gauff, het na derde plek opgeskuif. Elena Rybakina van Kazakhstan is steeds tweede nadat sy in die halfeindronde teen Sabalenka verloor het. Iga Swiatek van Pole is nou vierde, gevolg deur die Amerikaners Jessica Pegula en Amanda Anisimova, en Elina Svitolina van Oekraïne. Die Italianer Jasmine Paolini is agtste, die Kanadees Victoria Mboko negende en die Rus Mirra Andreeva tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-391-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-534-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….