Nuus 14:00
BULLETIN 26 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus monitor minister Mantashe se optrede nadat hy die terughouding van brandstof onwettig verklaar
# Die Tshwane metro besnoei uitkontraktering en versterk interne kapasiteit
# En rugby: Geringe veranderings aan die Haaie vir hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Cardiff
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, se waarskuwing aan vulstasies wat brandstof terughou, aangesien dit onwettig is. Die minister het gister tydens ‘n vraag-en-antwoordsessie in die Nasionale Vergadering gesê enige doelbewuste poging om brandstof van die mark te weerhou sal nie geduld word nie. Wynand Boshoff van die VF Plus sê daar is tans geen brandstoftekorte in Suid-Afrika nie, en daar word ook nie tekorte verwag nie, maar talle vulstasies en groothandelaars het blykbaar nie diesel nie:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê die metro sny besteding aan gekontrakteerde dienste om interne vermoë te bou. Moya het op ‘n nuuskonferensie oor die stad se begroting onthul die koste van watertenkwaens het met 79-persent gedaal tot 126,7-miljoen-rand, en sekuriteitskontrakte met 17-persent. Algehele uitkontraktering het met 4,4-persent verminder, met kapitaalbesteding wat met meer as 14-persent gestyg het. Sy beklemtoon fondse sal infrastruktuur, afvalbestuurstelsels en wetgewing versterk, insluitend die uitbreiding van die voertuigvloot en die versterking van misdaadbestrydingsoperasies:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het kennis van die Dynamic Brands Manufacturing ontvang om ‘n produk aan die mark te onttrek. Dit raak sekere besendings van die ses-persent-konsentraat van die Slimsy Pomegranate Squash in literbottels, wat weens verpakkingsfoute moontlik ʼn gesondheidsgevaar inhou. Die betrokke produkte se “beste voor”-datum is 14 Oktober 2026. Die kommissie-woordvoerder, Prudence Moilwa, sê sowat 17-duisend-364 eenhede van die produk is in talle provinsies op winkelrakke beskikbaar:
# Rugby: Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, het geringe veranderings aan die span gemaak wat verlede week die oorhand gehad het oor Munster in die Verenigde Rugbykampioenskap, vir hul kragmeting môre teen Cardiff in Durban. Daar is twee veranderings agter, met Bradley Davids wat die beseerde Williams op skrumskakel vervang en Ethan Hooker is terug van verlof om saam met kaptein Andre Esterhuizen in die middelveld te speel. Daar is altesaam sewe Springbokke in die beginspan en drie op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-597-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-442-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: Die landbou-organisasie TLU SA, brei sy Jongboer van die Jaar-kompetisie uit, en stel vanjaar ‘n Jeugboer van die Jaar-kategorie vir leerders bekend. Die projek moedig leerders aan om entrepreneursvaardighede, kreatiwiteit en verantwoordelikheid te ontwikkel met praktiese landbouprojekte. Bennie van Zyl van TLU SA sê die projek stel kinders bekend aan volhoubare boerdery en probleemoplossing, met die doel om die volgende generasie boere-pioniers aan te moedig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….