Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel beskuldig Suid-Afrika van bondgenootskap met Hamas in die Internasionale Geregshof
# ‘n Voormalige gyselaar vra die VN om die gyselaarsituasie in Gaza te beëindig
# En, sokker: Brasilië gaan die Vroue Wêreldbekertoernooi in 2027 aanbied
# Israel beweer Suid-Afrika is ‘n bondgenoot van Hamas en verdraai die feite. Israel het vanoggend sy betoog gelewer voor die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland, en beskuldigings verwerp dat hy hulp aan Gaza verhoed en grense sluit. Die land beskryf Suid-Afrika se beskuldigings as ongegrond en afstootlik. Die raadgewer van die Israelse ministerie van Buitelandse Sake, Tamar Kaplan Tourgeman, hou vol ‘n kragtige regstelsel verseker die nakoming van humanitêre beginsels. Sy kritiseer Suid-Afrika dat hy nie aandag gee aan Hamas se rol nie:
‘n Voormalige gyselaar en stigter van Fair Planet, Shoshan Haran, het intussen die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies versoek om in te gryp met die vrylating van gyselaars in die konflik in Gaza. Sy het tydens ‘n informele byeenkoms in New York, wat deur Amerika byeengeroep is, aangedring op die vrylating van 128 vermiste gyselaars. Haran is vir 50 dae aangehou en het gewys op die dringende behoefte aan internasionale optrede aangesien haar skoonseun steeds gyselaar gehou word:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Elektroniese Sigaretprodukte moedig verbeterde openbare deelname en opvoeding aan oor die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels. Die kommer spruit uit tekortkominge tydens onlangse openbare verhore, onder meer onvoldoende begrip oor die wetsontwerp se voorskrifte en logistieke uitdagings. Die hoofbestuurder van die vereniging, Asanda Gcoyi, steun die indien van die wetsontwerp by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad vir inklusiewe besprekings:
# Brasilië is aangewys as gasvrou vir die Wêreldbekertoernooi vir Vroue in 2027, teenoor ‘n gesamentlike bod van België, Duitsland en Nederland. Die wêreld-beheerliggaam, Fifa, het vanoggend in Bangkok, Thailand, tussen die twee aanbiedings gestem. Altesaam 119 afgevaardigdes het vir Brasilië gestem en 78 vir die Europese bod. Brasilië het ook beter gevaar in Fifa se evalueringsverslag. Die land beplan om tien stadions te gebruik wat vir 2014 se Wêreldbekertoernooi vir mans ingespan is. Dis die eerste keer dat die vrouetoernooi in Suid-Amerika gehou word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-260-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: Die raad van die Universiteit van Kaapstad het ‘n senior akademikus van die Universiteit van KwaZulu-Natal as die instelling se nuwe visekanselier aangestel. Professor Mosa Moshabela, wat ‘n mediese agtergrond het, is tans die waarnemende adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovering by die Durbanse instelling. Hy volg Mamokgethi Phakeng op, wat verlede jaar op spesiale verlof geplaas is en daarna op vroeë aftrede. Dit het gevolg kort ná die aanstelling van ‘n onafhanklike paneel om bewerings van wanbestuur en magsmisbruik teen haar te ondersoek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….