Nuus 14:00
BULLETIN 20 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie betig Fannie Nkosi oor sy ontwykende getuienis
# Die IVP waarsku die Midde-Oosterse konflik sal diepgaande gevolge op wêreldvrede hê
# En krieket: Nieu-Seeland klop die Proteas met 8 paaltjies in die derde T20
# Die Madlanga-kommissie het die SAPD-beampte Fannie Nkosi betig omdat hy vrae nie bevredigend beantwoord het nie. Kommissaris Sesi Baloyi het Nkosi gekritiseer omdat hy tydens sy getuienis oor Tshwane-tenderbewerings herhaaldelik beweer het hy kan nie belangrike besonderhede onthou nie. Baloyi het gewaarsku getuies is verplig om die kommissie ten volle by te staan. Nkosi hou vol hy het na sy beste vermoë geantwoord en sê hy kan nie kommentaar lewer oor sake wat hy nie kan onthou nie:
# Die IVP het gewaarsku die toenemende konflik tussen die VSA, Israel en Iran dreig om die Midde-Ooste in ‘n verwoestende streeksoorlog te dompel, met diepgaande gevolge vir wêreldvrede, veiligheid en ekonomiese bestendigheid. Mkhuleko Hlengwa van die party sê dit is die era van dwaasheid, waar diplomasie te maklik laat vaar word ten gunste van militêre oorheersing. Hy sê die pad vorentoe behoort duidelik wees en vyandelikhede moet onmiddelik gestaak word:
Die vakverbond Cosatu sê intussen hy is uiters bekommerd oor die moontlike uitwerking wat die Midde-Oosterse konflik op Suid-Afrika se swak ekonomie gaan hê. Die regering het die versekering gegee dat die nasionale brandstofvoorraad voorlopig voldoende is te midde van toenemende onsekerheid in die wêreld se energiemarkte. Matthew Parks van Cosatu sê hulle waardeer die regering se versekering, maar voeg by as die oorlog langer duur en die wêreld se voorsiening word ontwrig, gaan ‘n bestendige brandstofvoorraad nie lank hou nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die Departement van Korrektiewe Dienste se ondertekening van ‘n verstandhoudingsooreenkoms met godsdienstige en gesondheidsorgverskaffers om die rehabilitasie van gevangenes te verbeter. Claude Naicker van die vakbond beklemtoon doeltreffende instelling, deurlopende monitering en voldoende personeel is noodsaaklik. Hy prys die herstellende geregtigheid, berading en gesondheidsprojekte en verwelkom nuwe vennootskappe. Naicker sê hierdie projekte kan egter nie kritieke vakatures in korrektiewe fasiliteite in Suid-Afrika vervang nie:
# Krieket: Nieu-Seeland is 2-1 voor in die reeks van vyf T20-wedstryde teen Suid-Afrika na ‘n kliniese oorwinning van agt paaltjies op Eden Park. Die Swart Pette die Proteas tot 136 vir 9 beperk, nadat hulle die loot gewen en besluit het om te boul. Vir die Proteas het George Linde 33 van 12 balle aangeteken. Nieu-Seeland het die teiken maklik bereik, met 137 vir twee, in net meer 16 boulbeurte. Tom Latham se onoorwonne 63 saam met Devon Conway se 39 het ‘n oortuigende sege verseker. Die vierde T20 kragmeting is Sondag in Wellington.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-507-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-668-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….