Nuus 14:00
BULLETIN 1 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Bykomende vuurwapen-aanklag word teen Sibiya gevoeg
# Binnelandse Sake stel die eerste digitale ID-prototipe bekend
# En die rand breek deur die vlak van 16-rand-60-sent teenoor die dollar
# Staatsaanklaers het nog ‘n aanklag bygevoeg teen die adjunk nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, te midde van sy borgtogaansoek in die Randburgse Landdroshof in Gauteng. Die aanklag vir die onwettige bewaring van ‘n vuurwapen hou verband met ‘n vuurwapen wat in sy voertuig gevind is tydens sy inhegtenisneming. Sibiya staan tereg op onder meer verkragting, mensehandel en die seksuele gereedmaking van ‘n minderjarige. Die staat staan borgtog teen en die verdediging betwis die aanklagte en die ondersoek. Sibiya verskyn na verwagting Maandag voor ‘n tugkomitee van die polisie.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die eerste werkende prototipe van ‘n digitale identiteitsdokument aangekondig en regstreeks met sy eie besonderhede gedemonstreer. Die slim-identiteitskaarte bly beskikbaar, terwyl die digitale dokumente van biometriese bevestiging gebruik sal maak. Schreiber het ook bevestig dat die groen identiteitsdokument nie meer na 31 Maart volgende jaar vervaardig sal word nie en vanaf Maart 2028 nie meer as geldige identifikasie sal dien nie:
# Die regering het bevestig dat 53 gesinne vandag na Angola reis as deel van Suid-Afrika se afvaardiging vir die Angolese projek vir die repatriëring van bannelinge. Die program, wat deur die Suid-Afrikaanse Departement van Sport, Kuns en Kultuur gelei word, het ten doel om die oorskot van sowat vyfduisend bevrydingshelde wat tussen 1976 en 1992 in ballingskap oorlede is, op te spoor, op te grawe en te repatrieer. Die hoof van kommunikasie, Zima Velaphi, sê Angola is die onmiddellike fokus van 2026/27 se program.
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz sê om van vyfstel-wedstryde ontslae te raak sal die nalatenskap van Grand Slam-toernooie uitwis. Daar is ‘n toenemende debat oor werkslading, die laat voltooing van wedstryde en die eise van die speelskedules. Dit het stukrag gekry tydens verlede maand se Amerikaanse Ope-kwarteindronde toe die Amerikaner Ben Shelton vir Alcaraz, die verdedigende kampioen, eers half-vier die oggend verslaan het. Alcaraz sê die huidige formaat is ‘n integrale deel van Grand Slam-toernooie:
# En geldsake: Die rand het deur 16-rand-60-sent teenoor die dollar gebreek en sy swakste vlak in byna twee maande bereik. Die dollar versterk namate die opbrengste van Amerikaanse staatseffekte styg, terwyl hoër oliepryse en verwagtinge van Amerikaanse rentekoersverhogings druk verhoog. Die rand ondervind ook ‘n brandstofprysskok, met petrol- en dieselpryse wat na verwagting volgende week met ongeveer drie-rand per liter sal styg. Ekonome waarsku dat dit inflasie tot vyf-persent kan opstoot en ‘n verdere rentekoersverhoging in November kan veroorsaak. Ontleders noem ook verslegtende ruilvoorwaardes en afnemende ondersteuning vir verbruiksgoedere-pryse.
Die rand verhandel tans teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-595-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-165-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….