Nuus 14:00
BULLETIN 16 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se langverwagte verhoor is geskeduleer vir volgende jaar – twee dekades na die wapentransaksiebewerings
# Die GOOD-party moedig die inkomende regering aan om ‘n program te ontwikkel vir die NGV
# En, sokker: Premierliga-klubs gaan stem oor die skrapping van video-skeidsregters
# Oud-president Jacob Zuma sal na verwagtig volgende jaar verhoor word, 20 jaar nadat hy aanvanklik aangekla is in verband met die omstrede wapentransaksie. Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het die verhoor geskeduleer tussen April en September volgende jaar. Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales word aangekla van korrupsie, rampokkery, bedrog en belastingontduiking. Die verhoor is herhaaldelik vertraag, onder meer deur pogings om die staatsaanklaer, Billy Downer, te verwyder. Die staat hoop daar sal geen verdere vertragings wees na ‘n voorverhoorkonferensie op 29 Augustus nie.
# Die GOOD-party moedig die inkomende regering aan om ‘n program te ontwikkel vir die Nasionale Gesondheidsversekering, ten einde die geïdentifiseerde struikelblokke in die wetgewing uit te stryk voor dit in werking tree. Dit is spesifiek daarop gerig om die vertroue te wen van gesondheidslui en die gesondheidsektor. Brett Herron van GOOD sê Suid-Afrika kan nie sy grondwetlike verantwoordelikhede opsyskuif om ‘n regverdige en billike staat te ontwikkel op grond van die regering se bewese rekord van onbevoegdheid nie:
# Die Grensbestuursowerheid het 400 junior grenswagte as wetstoepassingsbeamptes aangestel tydens ‘n uitpasseringsplegtigheid in Pretoria. Die geleentheid by die Polisie-opleidingskollege word ‘n mylpaal genoem in die versterking van Suid-Afrika se grensbeheer. Die adjunkminister van Binnelandse Sake, Njabulo Nzuza, lig die belangrikheid uit van die stap in die stryd teen onwettige immigrasie en om grensuitdagings aan te pak:
# Sokker: Engelse Premierlia-klubs gaan volgende maand op hul algemene vergadering stem oor die moontlike skrapping van video-ondersteunde skeidsregters. Dit volg nadat Wolverhampton Wanderers ‘n amptelike voorstel ingedien het. Die klub het hierdie seisoen talle aanvegbare beslissings teen hulle gehad en voer aan die beslissing-hersieningstelsel ondermyn die waarde van die Premierliga-handelsmerk. Veertien van die 20 klubs sal ter gunste daarvan moet stem voor dit geskrap kan word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-276-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte, Financial Times se derde lys van die vinnigs-groeiende ondernemings in Afrika plaas Suid-Afrika met 41 van Afrika se vinnigstes. Hierdie prestasie volg ondanks ‘n swak ekonomie. Resourgenix is eerste met groei van 542-persent, gevolg deur die HearX Group met 178-persent. Deimos Cloud is boaan inligtings-tegnologie-ondernemings met 121-persent-groei. Opmerklike inskrywings sluit Tyme bank in, met 114-persent-groei en meer as agt-miljoen kliënte. Hierdie welslae, te midde van ekonomiese uitdagings, beklemtoon Suid-Afrika se entrepreneuriese veerkragtigheid en potensiaal vir groei in verskeie sektore soos finansiële tegnologie, gesondheidsorg en IT.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….