Nuus 14:00
BULLETIN 9 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 63-duisend stuks vee in die Oos-Kaap is binne ‘n week teen bek-en-klouseer ingeënt
# Die asbes-korrupsiesaak is uitgestel vir beskuldigde nommer een om regsverteenwoordiging te bekom
# En krieket: Die Proteas gaan uiteindelik uit Indië vertrek nadat hulle gestrand was weens die konflik in die Midde-Ooste
# Die Oos-Kaapse LUR vir Landelike Ontwikkeling en Landbouhervorming, Nonceba Kontsiwe, sê die provinsie het binne ‘n week meer as 63-duisend beeste ingeënt teen bek-en-klouseer. Dit volg nadat die eerste 150-duisend dosisse Argentynse entstof verlede week in die provinsie aangekom het. Kontsiwe sê die departement het ‘n bestelling vir een-miljoen-en-50-duisend entstowwe by Onderstepoort-biologiese Produkte geplaas nadat die provinsiale Tesourie verlede maand 55-miljoen-rand se noodbefondsing toegeken het:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof het die asbes-korrupsiesaak van 255-miljoen-rand tot 9 April uitgestel om beskuldigde nommer een, die voormalige hoof van die provinsiale Departement van Menslike Nedersettings, Nthimotse Mokhesi, toe te laat om nuwe regsverteenwoordiging te bekom. Daar is 18 beskuldigdes, insluitend die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en die sakeman Edwin Sodi. Regter Phillip Loubser waarsku lasbriewe vir inhegtenisneming kan uitgereik word indien beskuldigdes versuim om te verskyn:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, verwerp die Stad Kaapstad se betoog dat ‘n muur van 120-miljoen-rand langs die N2-snelweg misdaad sal verminder. Hy sê kernwetstoepassing kan nie vervang word deur infrastruktuur nie en sal nie bendegeweld, vuurwapenverwante oortredings of georganiseerde en ander misdaad uitskakel nie. Build One South Africa se woordvoerder, Roger Solomons, noem die projek kosmeties en dring aan fondse moet eerder herlei word na sigbare wetstoepassing:
# Krieket: Die Proteas vertrek môre uit Kolkata nadat hulle na die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië gestrand was weens die konflik in die Midde-Ooste. Die spelers wat van Sondag aan ’n T20-reeks van vyf wedstryde in Nieu-Seeland deelneem, sal regstreeks van Kolkata na Mount Maunganui reis terwyl die res terugkeer huis toe. Die jonger broer van die veelsydige Protea-speler Corbin Bosch, Eathan, sal intussen weens ’n besering nie geleentheid kry om sy eerste wedstryd vir Suid-Afrika te speel nie. Keshav Maharaj sal die span aanvoer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-890-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-102-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Gesondheidsdepartement dring daarop aan dat inwoners gereelde oogondersoeke moet ondergaan, met Wêreldgloukoomweek wat dié week herdenk word. Die departement sê gloukoom, bekend as die stille dief van sig, is ‘n belangrike oorsaak van onomkeerbare blindheid en ontwikkel dikwels sonder vroeë simptome. Die departement se bestuurder vir Ooggesondheid, Virginia Mawela, sê inwoners, veral diegene ouer as 40, moet gereeld getoets word om sigverlies te voorkom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….