Nuus 14:00
BULLETIN 6 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA is bekommerd oor die regering se stadige hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking
# Die sakeman Suliman Carrim versoek in camera-getuienis voor die Madlanga-kommissie ná dreigemente
# En sokker: Minister McKenzie sê Suid-Afrika is gereed om die uitgestelde Afrikabekertoernooi vir vroue aan te bied
# Die landbou-organisasie TLU SA is bekommerd oor die huidige tempo en rigting waarin die regering die bek-en-klouseer-uitbreking bestuur. Die organisasie is deel van die Bek-en-Klouseer-bedryfskoördineringsraad wat die minister van Landbou, John Steenhuisen, gestig het vir ‘n gekoördineerde poging ter ondersteuning van die gefaseerde instel van die strategie. Woordvoerder Caria van der Merwe sê die land het nie die nodige vermoë om die uitbreking doeltreffend te hanteer nie:
Intussen sê die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, hulle werk daaraan om die verspreiding te bekamp omdat landbou ’n belangrike ekonomiese dryfveer in die provinsie is. Een-en-veertig-duisend-en-19 entstofdosisse is reeds by 239 inentingspersele in die provinsie toegedien. Nege-en-twintig privaat veeartse help met die veldtog. Winde sê talle provinsiale departemente werk nou saam met munisipaliteite om die beweging van vee te monitor en het hoogs sigbare wetstoepassingsoperasies op belangrike roetes ingestel:
# ‘n Sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, het weens veiligheidsredes aansoek gedoen dat sy getuienis voor die Madlanga-kommissie in camera aangehoor word. Sy prokureur, Kameel Premhid, het aan die kommissie gesê Carrim ontvang doodsdreigemente en vrees openbare verrigtinge mag die situasie vererger. Hy voer aan ‘n debat oor die aansoek tydens ‘n oop sitting en regstreekse uitsending kan die doel van die versoek vir ‘n geslote verhoor ondermyn:
# Eskom sê hy kan kredietbeheermaatreëls teen 14 munisipaliteite instel terwyl onbetaalde elektrisiteitskuld 110-miljard-rand oorskry. Die kragreus het kennisgewings begin uitreik wat die owerhede toelaat om te reageer. Eskom waarsku elektrisiteitstoevoer kan onderbreek word as die skuld nie betaal word nie. Woordvoerder Daphne Mokoena sê munisipaliteite versuim om te voldoen aan die voorwaarders van die Nasionale Tesourie se skuldverligtingsprogram, en dit veroorsaak kommer oor finansiële bestendigheid en voortgesette hervormings:
# Sokker: Die minister van Sport, Gayton McKenzie, sê Suid-Afrika is gereed om die uitgestelde Afrikabekertoernooi vir vroue in Julie aan te bied en sê die land het die nodige stadions. Die Afrika-beheerliggaam het bevestig die kompetisie, wat die 17de van dié maand sou begin, is uitgestel. Dit volg op berigte dat Marokko dit nie meer wil aanbied nie. McKenzie sê indien Marokko onttrek, is Suid-Afrika gereed met al die nodige infrastruktuur. Banyana Banyana is in Groep B ingedeel saam met Burkina Faso, Tanzanië en die Ivoorkus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-746-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-85-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….