Nuus 14:00
BULLETIN 4 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran neem afskeid van sy ontslape opperleier tydens ‘n seremonie in Teheran
# Die Madlanga-kommissie veroordeel Brown Mogotsi se vae mediese sertifikaat
# En rugby: Die nuwe All Black-afrigter is opgewonde oor die toer teen die Springbokke
# Iran begin later vandag afskeid neem van die ontslape opperleier, ajatolla Ali Khamenei, tydens ‘n seremonie in Teheran. Die Islamitiese Raad sê die afskeidseremonie sal drie dae lank duur en die begrafnisoptog word later bekendgemaak. Die raad sê die publiek sal hulde kan bring aan die ajatolla se liggaam in die Imam Khomeini-gebedsaal in Teheran. Khamenei het Saterdag in die ouderdom van 86 gesterf tydens Israelse en Amerikaanse lugaanvalle.
Die vakbondfederasie Saftu sê intussen hy veroordeel enige militêre aggressie, geheime destabilisering of agenda vir regeringsverandering wat Amerika en Israel teen Iran uitvoer. Meer as 700 mense is sedert Saterdag dood in die aanvalle. Asive Dyani van Saftu sê die geskiedenis het bewys dat sogenaamde ingrypings in die naam van demokrasie slegs vernietiging, onbestendigheid en lyding vir gewone mense meegebring het, en nooit bevryding nie:
# Die Madlanga-kommissie het die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, se mediese sertifikaat as vaag bestempel. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, is bekommerd oor ‘n toenemende aantal mediese sertifikate wat getuies indien. Hy beklemtoon sertifikate wat slegs mediese toestande aandui, ontwrig verrigtinge. Madlanga waarsku sulke siekbriewe is onaanvaarbaar en hulle oorweeg dit om onduidelike sertifikate na die Raad vir Gesondheidsberoepe te verwys vir professionele hersiening:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, waarsku wêreldwye omwenteling hervorm energie en selfstandigheid. Hy het op die Afrika-energie-indaba in Kaapstad Afrika se sentrale rol in kritieke minerale en hernubare potensiaal beklemtoon. Ramokgopa sê die vasteland is die middelpunt van energie-oorgang terwyl die wêreldekonomie ontwikkeling en verandering ondervind. Ramokgopa vra streeksamewerking, industrialisering, streek-ontwikkeling van energie-infrastruktuur en laer kapitaalkoste om te verseker dat Afrika voordeel trek uit die wêreldwye groen oorgang.
# Rugby: Nieu-Seeland se nuwe hoofafrigter, Dave Rennie, sê hy is opgewonde oor die toer in Suid-Afrika later vanjaar. Die Springbokke is in Augustus en September gashere vir die All Blacks. Drie van die vier toetse word in Johannesburg en Kaapstad gespeel, en die ander een die eerste keer in Amerika. Rennie sê hy sien uit na die vooruitsig van ses intense weke op Suid-Afrikaanse bodem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-495-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-191-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 81-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….