Nuus 14:00
BULLETIN 2 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Arabiese Emirate ontbied die Iranse ambassadeur oor aanvalle en waarsku oor die gevolge
# Die Madlanga-kommissie sal nie die misbruik van prosedures toelaat deur siekte-verskonings op die nippertjie nie
# En motorsport: Melbourne se Grand Prix sal na verwagting nie deur vervoer-chaos ontwrig word nie
# Die Verenigde Arabiese Emirate het Iran se ambassadeur in die land, Reza Ameri, ontbied oor waarna hy verwys as terroriste-aanvalle gemik op sy grondgebied. Iran het Amerikaanse belange in die V-A-E en ander Midde-Oosterse lande geteiken ná Amerikaans-Israelse aanvalle. Die V-A-E se minister van Buitelandse Sake, Khalifa Shaheen Al Marar, noem dit ‘n skending van soewereiniteit en internasionale reg. Die land verwerp Iran se regverdiging en waarsku oor ernstige gevolge vir bilaterale betrekkinge. Hy eis dat die aanvalle onmiddellik gestaak word, en behou die reg voor om te reageer.
Intussen het die Al Jama-ah-party van Suid-Afrika Amerika en Israel se gesamentlike aanvalle op Iran veroordeel en sê respek vir internasionale reg en diplomasie moet voorrang kry bo oorlog. Die dodelike aanvalle het gelei tot die dood van Iran se opperleier, ajatolla Ali Khamenei, die vloei van olie belemmer en lugreise ontwrig. Partyleier Ganief Hendricks sê die aanvalle het wêreldwye vrede en bestendigheid ondermyn en spanning in die Midde-Ooste verhoog:
# Die Madlanga-kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê hulle neem doktersertifikate en onverwagse siektes deur getuies baie ernstig op en sal nie misbruik van die proses duld nie. Dit volg op die afwesigheid van die sakeman Brown Mogotsi weens beweerde swak gesondheid. Hy het tot vanmiddag om ‘n mediese sertifikaat in te dien. Michaels sê versuim om te voldoen, kan lei tot die dagvaarding van mediese praktisyns om te kom getuig:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms oor Gauteng, dele van Mpumalanga en Limpopo. Die Johannesburgse Noodbestuursdienste waarsku oor swaar reën, gladde paaie en moontlike oorstromings op plekke. Die Weerdiens voorspel tropiese vog sal stortreën, hael en weerlig meebring, wat waarskynlik tot môreoggend sal voortduur. Motoriste word versoek om versigtig te bestuur, veilige afstande te handhaaf en te vermy om oorstroomde paaie oor te steek.
# Motorsport: Die organiseerders van die seisoen se eerste Formule Een-Grand Prix verwag geen ontwrigting van die komende naweek se wedren in Melbourne, Australië nie, ondanks die vervoerchaos wat deur die Midde-Oosterse konflik veroorsaak is. Duisende vlugte is gekanselleer. Australië se F1-hoof, Travis Auld, sê baie renjaers, ingenieurs, spanhoofde en ander spanlede se reisplanne is ontwrig, maar hulle kon vlugte herskommel en hy glo almal sal betyds opdaag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-219-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-386-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….