Nuus 14:00
BULLETIN 25 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Brent Bozell beloof om bande tussen Amerika en Suid-Afrika te versterk
# Die Onderwysdepartement sê graadherhalings kos tot agt-persent van sy begroting
# En rugby: Rassie Erasmus nooi 49 spelers na die Bokke se eerste belyningskamp
# Die nuut-aangestelde Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, sê die versterking van verhoudings tussen Pretoria en Washington sal voorrang geniet. Hy het sy geloofsbriewe aan die waarnemende hoof van Staatsprotokol, Clayson Monyela, oorhandig. Bozell erken die spanning nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, na sy amp teruggekeer het. Hy beklemtoon gedeelde waardes en beleggingsbande en noem daar is meer as 500 Amerikaanse ondernemings in Suid-Afrika ondanks die huidige diplomatieke uitdagings:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is erg bekommerd omdat die land steeds in die greep is van ‘n geweldsmisdaad-noodtoestand, met volgehoue hoë vlakke van moord, verkragting, gewapende roof en bendeverwante geweld. Die onlangs-vrygestelde kwartaallikse misdaadstatistieke toon dat vyf-duisend-940 moorde tussen Oktober en Desember aangeteken is, ondanks ‘n afname van 8,7-persent op ‘n jaargrondslag. Claude Naicker van die vakbond sê ‘n volledig geïntegreerde veiligheidstrategie is nodig:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die herhaling van Grade kos Suid-Afrika miljarde rand en gebruik tot agt-persent van die jaarlikse onderwysbegroting. Die bevinding is vervat in die Funda Uphumelele-verslag, wat leesuitkomste beoordeel het vir leerders van graad een tot vier. Daar is 15-persent van graad drie-leerders het nul behaal in lees-beoordelings. Kenners sê die herleiding van fondse na vroeëkinderjare-ontwikkeling en gestruktureerde geletterdheidsprogramme sal sterker en blywende uitslae oplewer.
# Forum for South Africa sê die regering moet die slenter verduidelik waarmee 17 Suid-Afrikaanse mans na Rusland gelok is om in Oekraïne te veg. Vier van hulle is reeds terug, elf keer binnekort terug, een is in ‘n hospitaal in Moskou en die ander een se reisdokumentasie moet nog afgehandel word. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê hulle het ook vrae oor Suid-Afrika se mislukte intelligensie-stelsel:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het 49 spelers uitgenooi na vanjaar se eerste persoonlike belyningskamp in Kaapstad. Die groep sluit 11 nuwelinge in waarvan vyf steeds in die Junior Bokke se stal is. Daar is ook 14 Wêreldbekerwenners, insluitend Frans Malherbe, wat terugkeer na hy in die eindstryd van 2023 se Wêreldbekertoernooi beseer is. Die kamp duur van Dinsdag tot volgende Vrydag terwyl die Bok-afrigters begin slyp aan die span vir 2026 se seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-371-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-179-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….