Nuus 14:00
BULLETIN 30 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sibanyoni beklemtoon betrokkenheid, nie inmenging nie in die PUTCO-gesprekke
# Die uitleweringsproses begin teen ‘n man wat in Brittanje van gesinsmoord beskuldig word
# En Tennessee gaan die eerste keer in meer as 200 jaar ‘n vrou teregstel
# Die taxi-eienaar van Mpumalanga, Joe “Ferrari” Sibanyoni, het voor die Madlanga-kommissie getuig verwysings na inmenging in die busonderneming PUTCO was oor wettige sakeonderhandelings. Gesprekke oor die Kwaggafontein-deurgang was oor bedryfs- en kontraktuele aangeleenthede en nie misdadige optrede nie. Sibanyoni het aan kommissaris Sandile Khumalo en getuienisleier Matthew Chaskalson gesê dit was daarop gemik om die bedryf se belange te beskerm, en is gestaak toe verskeie busse aan die brand gesteek is:
# Die Kaapse Onafhanklikheids-voorspraakgroep veroordeel die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se opmerking dat diegene wat dink Suid-Afrika is nie goed vir hulle nie, moet die land verlaat. Die organisasie sê dis afskuwelik en skynheilig. Woordvoerder Phil Craig sê burgers wat betoog teen misdaad, rasse-diskriminasie en slagspreuke wat moord voorstaan, lewer ‘n burgerlike diens en is nie onpatrioties nie:
# Uitleweringsverrigtinge het in die Johannesburgse Landdroshof begin teen die Zimbabwies-Britse voortvlugtige, Ndodana Tshuma. Die Britse owerhede wil die 45-jarige laat teregstaan op aanklagte van die moord op sy vrou, Nothabo, en hul dogters, Natalie en Nala, in Brittanje in Julie. Tshuma het na Suid-Afrika gevlug kort voor die liggame ontdek is en is later in Johannesburg aangekeer. Hy het reeds skuld beken op ‘n plaaslike aanklag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
# Die Amerikaanse deelstaat Tennessee gaan vandag die eerste keer in langer as 200 jaar ‘n vrou teregstel. Die 50-jarige Christa Pike is op 18-jarige ouderdom skuldig bevind aan die moord op haar 19-jarige klasmaat, Colleen Slemmer, in 1995. Haar regsverteenwoordigers het versagting gevra weens ernstige trauma tydens haar kinderjare en psigiatriese probleme, maar goewerneur Bill Lee het dit geweier. Die Hooggeregshof het ook ‘n laaste appèlaansoek verwerp. Indien die teregstelling voortgaan, sal dit die eerste keer sedert 1820 wees dat ‘n vrou in Tennessee tereggestel word.
# Sokker: Die Premier-sokkerliga het bevestig vanjaar se MTN8-eindstryd sal op die Moses Mabhida-stadion in Durban plaasvind. Orlando Pirates kom volgende Saterdag teen Mamelodi Sundowns te staan kom, met die afskop om ses-namiddag. Kaartjies is van Vrydag aanlyn beskikbaar. Die stadion sal ‘n rekord tiende keer vir die MTN8-eindstryd gebruik word. Die kompleks het sedert 2024 opknappings- en herstelwerk ondergaan, onder meer verbeterings aan die speelveld. Die eThekwini-munisipaliteit sê die totale koste van die projek is sowat 284-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-770-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-188-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….