Nuus 14:00
BULLETIN 23 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mugabe en Matonze se borgtogaansoeke is uitgestel ná vertragings met hul hofaankoms
# Die Wes-Kaapse polisie soek na aanvallers ná ses moorde in Milnerton, Kaapstad
# En rugby: Ierland skuif op na derde plek op die wêreldranglys nadat hy Engeland op Twickenham vermorsel
# Die Landdroshof in Alexandra, Johannesburg, het die seun van die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe en sy medebeskuldigde se borgtogaansoeke tot volgende Dinsdag uitgestel. Bellarmine Mugabe en Tobias Matonze staan tereg op onder meer poging tot moord en regsverydeling nadat ‘n tuinier by Mugabe se huis in Hydepark geskiet is. ‘n Regsverteenwoordiger, Sinenhlanhla Mnguni, sê die vertraging is veroorsaak omdat die beskuldigdes na die Landdroshof in Randburg geneem is:
# Die Wes-Kaapse polisie soek na aanvallers na die moord op ses mense in Milnerton, Kaapstad, binne twee dae. Twee mans en ‘n vrou is vanoggend in die Ekuphumleni-informele nedersetting doodgeskiet. Woordvoerder André Traut sê Saterdag is drie mense in die Joe Slovo-informele nedersetting vermoor, insluitend twee wat in ‘n voertuig vol koeëlgate gevind is:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Brandweerdiens sê ‘n onbeheerde brand het in die berge bo die Rooiberg-kelder naby Robertson uitgebreek. Dit woed steeds in onherbergsame berghange. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê brandspanne hou die vlamme dop:
Nuus uit die buiteland:
# Een van die kragtigste storms in ‘n dekade beweeg deur die Amerikaanse noordooskus. Weerwaarskuwings is uitgereik vir 59-miljoen mense en noodtoestande is afgekondig in verskeie state, insluitend Massachusetts, Connecticut, Delaware, New Jersey en Rhode Island. Verskeie het reisbeperkings ingestel en duisende vlugte is afgestel. Die Amerikaanse Nasionale Weerdiens sê ‘n dik laag sneeu bedek reeds groot dele van die streek.
# Rugby: Die wêreldranglys het aansienlik verander na die naweek se Sesnasies-uitslae. Ierland het twee plekke opgeskuif na derde, na Suid-Afrika en Nieu-Seeland, nadat hulle Engeland 42-21 vermorsel het op Twickenham. Frankryk het een plek na vierde teruggesak ondanks hulle oorwinning van 33-8 oor Italië in Lille, terwyl Engeland nou vyfde is. Argentinië is steeds sesde terwyl Skotland van negende na sewende posisie opgeskuif het na hulle Wallis 26-23 verslaan het in Cardiff. Australië het een plek teruggesak na agtste, met Fidji negende en Italië tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-290-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-146-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….