Nuus 14:00
BULLETIN 20 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie ontvang ‘n formele klagte teen die korrupsie-beskuldigde regter Phahlane
# Meer as ‘n duisend Keniane veg vir Rusland in Oekraïne
# En krieket: Marizanne Kapp gaan die eendagreeks teen Pakistan misloop
# Die Regterlike Dienskommissie sê die waarnemende regter-president van die Hooggeregshof in Pretoria, Aubrey Ledwaba, het ‘n formele klagte ingedien teen die geskorste regter Portia Phahlane. Sy staan tereg op aanklag van korrupsie wat verband hou met ‘n opvolgings-kwessie van die International Pentecostal Holiness Church. Die Regterlike Gedragskomitee sal voorleggings oorweeg voor verdere stappe gedoen word. Albei partye het tot volgende Vrydag om te reageer. Die kommissie sê Phahlane sal nie sake wat gedeeltelik aangehoor is behartig tot die klagte-proses en verwante strafregtelike verrigtinge afgehandel is nie.
# AfriForum verskyn in die Appèlhof in Bloemfontein in die Vrystaat om ‘n appèlaansoek van Eskom teen te staan nadat die Hooggeregshof in Pretoria die kragvoorsiener gelas het om steenkool- en dieselkontrakte bekend te maak kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Eskom voer aan die inligting is kommersieel sensitief. Morné Mostert van AfriForum sê die publiek het die reg om groot staatskontrakte te kan deurgaan:
# Die vakverbond Cosatu vra die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging om vinnig in te gryp om die plaaslike rolprentbedryf te help. Die bedryf kla dat die departement tussen 600-miljoen- en ‘n-miljard-rand weerhou wat aan kwalifiserende maatskappye verskuldig is, ondanks hofbevele om dit te betaal. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die departement se voorgenome nasionale werksgroep vir die bedryf moet werkers in die sektor insluit:
Nuus uit die buiteland:
# Meer as ‘n duisend Keniane is gewerf om vir Rusland te veg in die oorlog teen Oekraïne. Dit is volgens ‘n intelligensieverslag wat hierdie week in Kenia se Parlement voorgelê is. Dit is vyf keer meer as wat voorheen geraam is. Die Russiese ambassade in Nairobi ontken die bewerings, maar sê buitelandse burgers kan vrywillig by sy gewapende magte aansluit. Die verslag beskryf ‘n netwerk van oneerlike staatsamptenare wat saamgesweer het met mensehandelsindikate om Keniane vir die oorlog te werf.
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler, Marizanne Kapp, gaan die eendagreeks teen Pakistan misloop weens siekte. Die 36-jarige Kapp het Maandag ongemak ondervind kort nadat sy geboul het in die derde en laaste T20 teen Pakistan in Benoni. Krieket Suid-Afrika sê die mediese span het ná ondersoeke besluit dat sy as voorsorgmaatreël moet rus. Kapp word vervang deur die 18-jarige nuweling, Fay Cowling. Die reeks van drie eendagwedstryde begin Sondag in Bloemfontein.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-205-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-29-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….