Nuus 14:00
BULLETIN 19 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrew van Brittanje word in hegtenis geneem op sy 66ste verjaarsdag
# Suid-Afrika vier sy eerste steenvrug-versending na China
# En rugby: Antoine Dupont is midde-in ‘n storm oor ‘n salarisplafon-oortreding
# Andrew Mountbatten-Windsor – voorheen prins Andrew van Brittanje – is in hegtenis geneem vir vermeende wangedrag in ‘n openbare amp. Dit volg nadat die Thames Valley-polisie gesê het hul ondersoek ‘n klagte dat hy na bewering vertroulike inligting met die Amerikaanse seksoortreder Jeffrey Epstein gedeel het. Andrew, wat vandag 66 word, ontken enige oortreding. Die BBC berig voertuie, vermoedelik polisiemotors, het vroeër vanoggend by die Sandringham-landgoed in Norfolk, Engeland, aangekom.
Terug in Suid-Afrika:
# Suid-Afrika vier ‘n belangrike landboumylpaal met die eerste steenvrug-versending na China. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, en die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Wu Peng, het toesig gehou toe 20-duisend houers pruime vanuit Franschhoek verskeep is. Dit volg op ‘n nuwe handelsooreenkoms met China sonder enige tariewe. Die regering sê die deurbraak sal boere se mededingendheid verhoog en Suid-Afrika aandeel aan China se landboumark van 3,2-duisend-miljard-rand aansienlik uitbrei.
# Die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, verwerp bewerings dat ‘n wit BMW wat verbind word met die sakeman, Katiso Molefe, aan sy kantoor toegewys is. Sibiya sê die polisie se hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het vals getuienis afgelê en hou vol die voertuig is eers in Augustus verlede jaar aan hom toegeken. Hy voeg by hy was destyds in Kaapstad vir amptelike diens en sê die bewerings is misleidend en ook nie gestaaf nie:
# Die Stad Kaapstad sê mure langs die N2 is dringend nodig om inwoners teen gewelddadige aanvalle te beskerm. Dit volg na ‘n voorval gistermiddag toe drie verdagtes ʼn vuurwapen op motoriste gerig het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê wetstoepassingsbeamptes en verkeersdienste het binne minute gereageer, maar die verdagtes het van die toneel gevlug:
# Rugby: Frankryk se kaptein, Antoine Dupont, is midde-in ‘n storm oor die oortreding van ‘n salarisplafon. Hy en sy spanmaat van Toulouse, Anthony Jelonch, word genoem in ‘n berig in die sportkoerant L’Equipe oor verdagte betalings wat hulle glo ontvang het om te help voorkom dat die span salarisplafon-regulasies oortree. Die maatskappy 3S-Alyzia het Dupont glo sedert 2017 byna 29-miljoen-rand betaal en Jelonch 3,2-miljoen-rand vir beeldregte en promosies, maar die koerant kon nie enige betekenisvolle bewyse opspoor dat die maatskappy hulle vir daardie doel gebruik het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-989-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….