Nuus 14:00
BULLETIN 18 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule se voormalige assistent gaan verhoor word vir asbeskorrupsie
# Geregtigheid ontwyk steeds Ndlovu en Mdhluli se gesinne ná die hofsaak 14 keer uitgestel is
# En krieket: ‘n Maklike oorwinning vir die Proteas oor die Verenigde Arabiese Emirate in Delhi
# Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het gelas oudpremier Ace Magashule se voormalige assistent, Moroadi Cholota, kan verhoor word. Haar spesiale pleidooi om uitgesluit te word van die korrupsiesaak van 255-miljoen-rand oor die verwydering van asbesdakke is geweier. Regter Phillip Loubser sê die beslissing baan die weg vir verrigtinge teen Cholota in verband met die hoëprofiel-korrupsiesaak, wat aansienlik aandag getrek het in die provinsie sowel as landwyd:
Nog nuus uit die howe:
# Gesinne wag steeds op geregtigheid ‘n jaar ná die wrede moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli, in Mpumalanga. Hul oorskot is in Mei in Limpopo gevind nadat hulle in Februarie verdwyn het. Die saak is reeds 14 keer uitgestel in die Landdroshof in KwaMhlanga, Mpumalanga. Palesa Magolego van die Afrika-media-en-kommunikasieforum sê hierdie vertragings vererger die gesinne se pyn:
# Die navorsingsfirma Krutham sê Suid-Afrika het sy kragstelsel oor drie jaar bestendig gemaak danksy stygende openbare beleggings, beurtkragverligting en markhervormings. Die verslag verwys na tien voorkeur-stappe om beleid in lewering te omskep, insluitend Eskom se ontbondeling, tariefhervormings en die bekendstelling van ‘n mededingende groothandel-elektrisiteitsmark. Besturende direkteur Peter Montalto glo momentum moet gehandhaaf word vir langtermyn-betroubaarheid, beleggings, werkskepping en ekonomiese groei terwyl die netwerk gemoderniseer word:
Nuus uit die buiteland:
# Warner Brothers Discovery verwerp Paramount Skydance se jongste vyandige oorname-aanbod van 479-rand per aandeel, maar het die mededingende Hollywood-ateljee sewe-dae gegee om ‘n beter en finale aanbod in te dien. Dit het ten doel om die bestaande ooreenkoms vir die verkoop van sy ondernemings te oortref, insluitend HBO Max en die “Harry Potter”-franchise, aan Netflix. Paramount noem ‘n informele hoër prys teen 495-rand per aandeel. Warner Brothers se reaksie op Paramount dui aan hy verkies die ooreenkoms met Netflix, en die kanse om te verander is redelik skraal.
# Krieket: Suid-Afrika het die Verenigde Arabiese Emirate maklik verslaan met ses paaltjies in hulle T20-Wêreldbeker-groepswedstryd in Delhi. Dewald Brevis het 36 bygedra en die Proteas het die lae teiken van 123 binne 14 boulbeurte bereik. Die V-A-E is vroeër tot 122 vir ses beperk. Alishan Sharafu se 45 was die hoogste telling. Corbin Bosch het drie paaltjies geneem en slegs 16 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan. Die onoorwonne Suid-Afrika was reeds voor die wedstryd deur na die Super Agts en speel Sondag in Ahmedabad teen die mede-gasheer, Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-984-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-920-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….