Nuus 14:00
BULLETIN 13 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gautengse polisielede word opdrag gegee om nie die gedenkrit vir Wiandré Pretorius by te woon nie
# Ramaphosa beklemtoon die ontplooiing van soldate in die Wes-Kaap weerspieël nie polisie-mislukkings nie
# En krieket: Zimbabwe skok die magtige Australië in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Gautengse polisielede is opdrag gegee om nie vanaand die gedenkrit vir die voormalige polisiereservis Wiandré Pretorius in Boksburg by te woon nie. Hy het Saterdag sy eie lewe geneem, enkele dae ná ‘n aanslag op sy lewe. Pretorius was ‘n persoon van belang in die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se ondersoek na die moord op die sakeman Emmanuel Mbhense in 2022 en die sluipmoord op ‘n getuie in die Madlanga-kommissie, Marius van der Merwe, bekend as Getuie D. ‘n Amptelike opdrag verbied polisielede om deel te neem.
# President Cyril Ramaphosa sê die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Wes-Kaap beteken nie die Suid-Afrikaanse Polisiediens het misluk nie. Hy het die ontplooiing gister in sy staatsrede aangekondig. Ramaphosa het tydens besprekings ná die staatsrede die polisie se teen-bende-operasies geprys en beklemtoon soldate sal bykomende ondersteuning bied namate die regering sy pogings verskerp om bendegeweld uit te roei:
Intussen vra Forum for South Africa Ramaphosa om ‘n tydsraamwerk vir die ontplooiing van die Weermag in die Wes-Kaap en Gauteng vas te stel. Die soldate sal die polisie help in gemeenskappe wat deurloop onder bendes en onwettige mynbou. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die ontplooiing is ‘n weerspieëling van ‘n regering wat nie daarin slaag om sy wetstoepassing-strukture te versterk en te bemagtig nie:
# Die Zimbabwiese Inkomstediens het beslag gelê op meer as 800 bottels Suid-Afrikaanse medisyne wat Zimbabwiese owerhede op die Beitbrug-grenspos ondek het. Dit volg nadat ‘n onwettige Zimbabwiese burger die land binnegekom het. Wetstoepassing het die besending onderskep en die ongemagtigde invoer van die produkte gestuit. Owerhede ondersoek die saak en beklemtoon voortdurende pogings om onwettige oorgrenshandel te bekamp en die nakoming van gesondheids- en doeane-regulasies te verseker.
# Krieket: Die onderskatte Zimbabwe het die magtige Australië met 23 lopies verslaan in hulle T20-Wêreldbeker-groepwedstryd in Colombo, Sri Lanka. Die Afrika-land het ‘n verdedigbare 169 vir twee aangeteken danksy Brian Bennett se onoorwonne 64. Australië se eerste paaltjie het geval met die totaal op 13 en nog drie kolwers het vertrek teen die tyd dat hulle 29 bereik het. Glenn Maxwell en Matt Renshaw het teruggeveg met ‘n vennootskap van 77 lopies om die vyfde paaltjie, maar Australië is vir 146 uitgeboul nadat Blessing Muzarabani vier paaltjies geneem het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-759-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-971-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….