Nuus 14:00
BULLETIN 12 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Al Jama-ah vra vlugtelingbeskerming in die staatsrede
# AfriForum waarsku naamveranderings kan geld mors en konflik veroorsaak
# En krieket: Sri Lanka teken die hoogste T20 Wêreldbeker-telling tot dusver aan in sy oorwinning oor Oman
# Al Jama-ah verwag van president Cyril Ramaphosa om Suid-Afrika se grondwetlike en geskiedkundige verbintenisse in vanaand se staatsrede te herbevestig. Die party is bekommerd oor die immigrasiebeleid en verwerp hardhandige afdwinging. Hul bepleit menslike vlugteling-beskerming. Die party vra ook duidelikheid rakende die erkenning van Moslem-huwelike, sterker optrede teen geslagsgeweld en bendemisdaad, en meer inklusiwiteit binne die regering van nasionale eenheid.
Intussen vra die leier van die ACDP, Kenneth Meshoe, dat gesondheidsorg-hervorming voorop gestel word in die staatsrede. Hy sê Suid-Afrika kan nie aanhou om gratis gesondheidsorg aan onwettige immigrante te bied terwyl burgers tekorte ondervind nie. Meshoe sê hulle gaan druk uitoefen om die Grondwet te wysig om burgers voorkeur-toegang tot dienste te gee. Hy wil hê die regering moet sy strategie hersien om druk op staatshospitale te verlig:
# AfriForum sê die verandering van 21 plekname vir korttermyn politieke gewin kan gemeenskappe verdeel en openbare fondse vermors. Die organisasie waarsku die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, se voorgestelde veranderinge in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan duur en verdelend wees, en die openbare mening ignoreer. Alana Bailey van AfriForum stel voor dat neutrale munisipale name gebruik word om respek vir alle gemeenskappe te verseker, sonder onnodige koste of konflik:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se hoofstad, Kiëf, is vroeg vanoggend deur Russiese missiele aangeval en verskeie geboue is getref. Die stad se burgemeester, Vitali Klitschko, sê geboue aan albei kante van die Dnipro-rivier het deurgeloop. Etlike stukke skrapnel het naby twee woongeboue in een distrik geval, maar daar het nie ‘n brand ontstaan nie en geen ongevalle is aangemeld nie. Die hoof van Kiëf se militêre administrasie, Tymur Tkachenko, sê minstens een aanval is aangemeld in ‘n oostelike voorstad.
# Krieket: Sri Lanka het Oman verpletter met ‘n oorwinning van 105-lopies in hul T20-Wêreldbeker-wedstryd in Pallekele. Die mede-gashere het ‘n reuse-225 vir vyf aangeteken, die hoogste van die toernooi tot dusver, danksy Kusal Mendis se 61 en Pavan Rathnayake se 60. Kaptein Dasun Shanaka het 50 van slegs 20 balle bygedra. Dushmantha Chameera en Maheesh Theekshana het elk twee paaltjies geneem en Oman is beperk tot 120 vir nege, ondanks Mohammad Nadeem se onoorwonne 53.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-501-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-63-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….