Nuus 14:00
BULLETIN 11 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika klop Afganistan in die tweede super-boulbeurt in Ahmedabad
# Paul O’Sullivan sê geen vordering is gemaak met die meineedsaak teen Fraser rondom Phala Phala nie
# En ‘n gemaskerde bende blaas ‘n pantserwa op op ‘n Italiaanse snelweg
# Ons begin met skitterende krieketnuus: Suid-Afrika het Afganistan met vier lopies geklop in ‘n dramatiese T20-Wêreldbeker-groepwedstryd in Ahmedabad, Indië, wat eers in die tweede super-boulbeurt beslis is. Albei spanne het 187 aangeteken, en 17 in die eerste super-boulbeurt. Die Proteas het 187 vir ses gehaal na vyftigtalle deur Ryan Rickelton en Quinton de Kock, en Afganistan daarna uitgeboul vir 187. David Miller en Tristan Stubbs het 23 lopies gemoker in die tweede bykomende boulbeurt, en Keshav Maharaj het Afganistan toe beperk tot 19.
Nou ander nuus:
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig daar is geen vordering gemaak met ‘n meineedsaak teen die hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, Arthur Fraser, nie. O’Sullivan ontken dat hy president Cyril Ramaphosa en raadgewer Bejani Chauke gehelp het om verdagtes op te spoor na die inbraak op Ramaphosa se plaas, Phala Phala. Hy het eers van die skandaal gehoor nadat Fraser hom vals betrek het:
# Die Plaaslike Owerheidsvereniging sê Ramaphosa se staatsrede moet ‘n duidelike padkaart vir optrede wees, nie slegs beloftes nie. SALGA dring daarop aan dat plaaslike regeringshervormings die belangrikste is, insluitend die professionele hervorming van munisipaliteite en die hersiening van die befondsingsmodel. President Bheke Stofile vra daadwerklile stappe wat munisipaliteite in staat stel om inklusiewe groei aan te wakker, openbare vertroue te herstel en beleid in meetbare vordering te omskep:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die stad verskerp sy wateraanvraag-bestuursprogram om die toevoer te bestendig en verbruik tot een-duisend-550-megaliter per dag te beperk. Maatreëls sluit in lekkasie-opsporing, drukbestuur, toevoer-vermindering in die aand, slim-monitering, en vennootskappe met sake-ondernemings. Morero vra inwoners on lekkasies reg te maak en daaglikse verbruik te verminder om volhoubare toegang tot water te verseker en die metro se langtermyn-watersekerheid te versterk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-84-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-817-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-71-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Vermetele bende gemaskerde rowers wat hulle voorgedoen het as polisiebeamptes, het oop en bloot ‘n transitovoertuig op ‘n besige snelweg in Italië opgeblaas. Verskeie mense het die voorval opgeneem, waarna dit wyd op sosiale media rondgestuur is. Beeldmateriaal wys swaar-gewapende mans wat agter geparkeerde motors wegkruip wanneer die kontantwa ontplof. Die verkeer het reeds tot stilstand gekom toe hulle ‘n ander vragmotor aan die brand gesteek en voertuie met flikkerende ligte gebruik het om voor te gee dat hulle polisielede is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….