Nuus 14:00
BULLETIN 29 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fort Hare se visekanselier bedank te midde van ‘n dissiplinêre verhoor
# Amerikaanse magte verlaat Irak en skep ‘n geleentheid vir Iran
# En krieket: ‘n Besering hou Buttler uit die driehoekige reeks in Pakistan
# Die visekanselier van die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap, Sakhela Buhlungu, het bedank, maar die universiteit se raad sê hy kan nie onmiddellik vertrek nie. Buhlungu het bedank net voordat hy sy verdediging sou voorlê in ‘n dissiplinêre verhoor waar hy teregstaan op aanklagte van growwe wangedrag, verset teen gesag en optrede wat die universiteit se naam skade sou berokken. Die aanklagte sluit bewerings in dat hy twee uitvoerende direkteure onregmatig aangestel het. Die raad sê Buhlungu se kontrak vereis ‘n kennisgewingstydperk en die dissiplinêre proses kan steeds voortgaan, en sê sy bedanking los nie die bewerings op nie.
# Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe kritiseer die regstelsel se hantering van geslagsgeweld en vrouemoord. Voorsitter Thoko Mkhwanazi-Xaluva het tydens die nasionale ondersoek in Johannesburg gewaarsku slagoffers word dikwels aan sekondêre viktimisering blootgestel, van hul eerste kontak met die polisie tot die hantering van hofsake. Tsietsi Shuping van die Kommissie vir Geslagsgelykheid waarsku intussen agterstande in DNS-toetse vertraag ook geregtigheid:
# Die vakverbond COSATU in Gauteng vra dringende optrede in die Wes-Rand teen onwettige vuurwapens, georganiseerde misdaad en geweld wat met onwettige mynbedrywighede verband hou. Dit volg nadat 18 mense Saterdagaand by ‘n taverne in Wedela, Carletonville, doodgeskiet is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. COSATU se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, vra beter polisie-intelligensie en sigbare wetstoepassing in kwesbare gemeenskappe:
Nuus uit die buiteland:
# Die laaste Amerikaanse magte verlaat Irak, wat meer as twee dekades van Amerikaanse militêre betrokkenheid in die land beëindig. Die stap sal na verwagting môre afgehandel wees en volg op ‘n ooreenkoms tussen Washington en Bagdad wat die Amerikaans-geleide koalisie se sending teen die Islamitiese Staat beëindig. Iran en groepe verbonde aan dié land noem dit ‘n oorwinning. Ontleders waarsku dit kan Iran se invloed in Irak versterk, terwyl die verlies van Amerikaanse lugverdediging die streek kwesbaar kan laat. Irak moet nou meer verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie veiligheid.
# Krieket: Die ervare kolwer en paaltjiewagter Jos Buttler sal weens ‘n besering nie aan Engeland se driehoekige eendagreeks in Pakistan kan deelneem nie. Hy het die besering verlede week opgedoen tydens die tweede eendagwedstryd teen Sri Lanka op Headingley. Jordan Cox is as sy plaasvervanger aangewys. Die reeks teen Pakistan en Sri Lanka begin die 20ste van volgende maand en word gevolg deur Engeland se besoek aan Australië in November. Engeland se beheerliggaam sal in die komende dae die jongste groep nasionale kontrakte bekend maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-106-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-148-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….