Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se werkloosheidskoers styg tot 32,9-persent in die eerste kwartaal van vanjaar
# Die DA beweer Cele bestee ‘n miljard-rand per jaar aan die polisie se miljoenêr-bestuurders
# En, tennis: Jannik Sinner kan op Roland Garros die wêreld se nommer een-speler word
# Werkende persone het in die eerste kwartaal van vanjaar met 22-duisend tot 16,7-miljoen toegeneem vergeleke met die vierde kwartaal van 2023. Volgens Statistieke SA se Kwartaallikse Arbeidsmagopname het die aantal werklose persone in die dieselfde kwartaal met 330-duisend tot 8,2-miljoen toegeneem. Hierdie veranderings het die amptelike werkloosheidskoers laat toeneem met 0,8 van ‘n persentasiepunt, vanaf 32,1-persent in die vierde kwartaal van 2023 tot 32,9-persent in die eerste kwartaal vanjaar. Die bedrywe wat tot die netto indiensnemingstoename bygedra het, sluit in handel, vervaardiging, privaat huishoudings, vervoer, landbou en mynbou.
# Die SA sê die polisie bestee ‘n verstommende een-miljard-rand per jaar aan die salarisse van generaals-majoor en brigadiers. Dit is deur die minister van Polisie, Bheki Cele, bekendgemaak na aanleiding van ‘n vraag deur die party. ‘n Woordvoerder van die DA, Andrew Whitfield, sê volgens die antwoord is daar 146 generaals-majoor en 632 brigadiers in die polisiemag, wat neerkom op ‘n gemiddelde salaris van onderskeidelik 1,48- en 1,23-miljoen-rand per jaar:
# Die beeldpoetser en nou teenstander van die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, kan baie moeilike kruisondervraging verwag van Trump se regsverteenwoordigers. Dit volg na Michael Cohen se getuienis dat Trump deel was van ‘n swyggeld-skema wat glo enige storie moes kelder wat sy verkiesingsveldtog in 2016 kon benadeel. Volgens Cohen was Trump deel van die skema en hy sou geld aan die prokureur terugbetaal, wat hy voorgeskiet het. Hy is deurgaans op die hoogte gehou van alles agter die skerms om stories te onderduk wat sy veldtog kon benadeel.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die misdaadsituasie in die land vereis noodoptrede en die nodige hulpbronne daarvoor. Die premier het die gesin van die vyfjarige Ditebogo Junior Phalane besoek wat Vrydag buite sy ouerhuis in Soshanguve doodgeskiet is. Lesufi sê moderne tegnologie, stelsels en vernuwing is nodig om misdaadbekamping uitvoerbaar te maak:
# Tennis: Daar wag ‘n groot aansporing vir Jannik Sinner op die Franse Ope. Novak Djokovic van Serwië se vroeë uitskakeling in die Italiaanse Ope beteken die Italianer kan by hom oorneem as die wêreld nommer een op Roland Garros. Die Chileen Alejandro Tabilo het Djokovic Sondag in skoon stelle geklop, wat beteken selfs al wen hy in Parys vir sy 25ste Grand Slam-titel, sal Sinner die topposisie oorneem deur net die eindstryd te bereik. Sinner is egter tans in ‘n stryd teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-568-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….