Nuus 14:00
BULLETIN 6 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verklaar ‘n nasionale ramp in die drie Kaapse provinsies
# ‘n Senior Russiese offisier word in Moskou geskiet
# En rugby: Duhan van der Merwe loop Skotland se Sesnasieswedstryd teen Italië mis
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die droogte in die Wes-, die Oos- en die Noord-Kaap tot ‘n nasionale ramp verklaar. Die hoof van die Nasionale Rampbestuursentrum, Elias Sithole, sê die stap bied toegang tot fondse vir noodlenigingspogings. Hy sê voorkeure sluit in die verskaffing van veilige drinkwater, die afdwinging van strenger waterbeperkings en die ondersteuning van landbou. Hy voeg by dat die provinsies op hoë gereedheidsgrondslag bly terwyl amptenare gekoördineerde optrede aanspoor.
# Die Madlanga-kommissie het die ANC-gekoppelde sakeman Suleiman Carrim se getuienis tot volgende maand uitgestel. Hy sou vandag getuig nadat die Hooggeregshof in Pretoria sy aansoek geweier het om sy dagvaarding ter syde te stel en hom gekritiseer het omdat hy daarmee gesloer het. Hy word betrek by omkoopgeld rondom ‘n polisie-tender van 360-miljoen-rand. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het Carrim se regspan beveel om vroeg volgende maand ‘n verklaring in te dien:
# Die DA vra die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om saam te span met kollegas in die kabinet om handelsbetrekkinge met Amerika te herbou ná die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Woordvoerder Toby Chance sê Suid-Afrika worstel steeds met hoë tariewe en diskriminerende wette, en vra dringende hervormings in swart ekonomiese bemagtiging, uitbreiding na Afrika-markte en die aanstelling van oorsese ekonomiese verteenwoordigers:
# ‘n Senior Russiese militêre offisier, luitenant-generaal Vladimir Alexeyev, is hospitaal toe gehaas nadat hy in Moskou geskiet is. Dit is die jongste voorval in ‘n reeks aanvalle op voorste militêre amptenare. Alexeyev is die adjunkhoof van militêre intelligensie. Sy hoof, Igor Kostyukov, het Rusland se afvaardiging gelei in onderhandelings met Oekraïne in Abu Dhabi oor veiligheidsverwante oorwegings in ‘n moontlike vredesooreenkoms. Die aanklaer se kantoor in Moskou sê ‘n onbekende aanvaller het Alexeyev verskeie kere voor ‘n woongebou geskiet en daarna van die toneel gevlug.
# Rugby: Een van Skotland se voorste puntemakers van alle tye, die Suid-Afrikaans-gebore Duhan van der Merwe, is weggelaat uit die groep vir môre se Sesnasies-openingswedstryd teen Italië in Rome. Die heelagter van die Britse en Ierse Leeus, Blair Kinghorn, is ook nie oorweeg nie, terwyl nog ‘n puntemasjien, Darcy Graham, op die bank gekies is. Afrigter Gregor Townsend het die agterste drietal vervang met Tom Jordan, Kyle Steyn en Jamie Dobie, wat sy eerste opdrafgeleentheid in die kompetisie kry. Die wedstryd begin tien-oor-vier op Stadio Olimpico.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-967-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-863-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….