Nuus 14:00
BULLETIN 5 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n onmiddellike sitting van die gesamentlike parlementêre komitee oor die SANW se Iran-flaters
# Brian Molefe bedank as parlementslid om op sy rol as die tesourier van die MK-party te fokus
# En Olimpiese Spele: Plaaslike kampioene gaan môre die Olimpiese vlamme op die Winterspele aansteek
# Die DA sê hy het die voorsitters van die parlementêre portefeuljekomitees oor Verdediging en oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Molefi Legoete en Supra Mahumapelo, gevra vir ‘n onmiddellike sitting van die gesamentlike komitee. Dit is weens kommer oor die gebrekkige ooreenstemming tussen Suid-Afrika se verdedigingsdiplomasie en sy amptelike buitelandse beleid. Woordvoerder Chris Hattingh sê dit volg op die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, se opmerkings in Iran:
# Eskom se voormalige uitvoerende hoof, Brian Molefe, het as die MK-party se parlementslid bedank om op sy rol as tesourier-generaal te konsentreer. Die party het die besluit bevestig nadat Molefe verlede maand in die posisie aangestel is. Dit is sy tweede uittrede uit die Parlement na ‘n kort tydjie vir die ANC in 2017. Molefe se vertrek volg op dié van mede-MK-partylid Lucky Montana. Albei is in die staatskapingsverslag genoem, met geen skuldigbevindings tot dusver nie.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê teenstanders sal nie maklik slaag teen ‘n moontlike gesamentlike Republikeinse presidents-veldtog deur vise-president JD Vance en die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, in 2028 nie. Nie een van hulle het nog aangedui of hulle verkiesbaar gaan wees nie. Rubio het in 2016 teen Trump verloor in die party se presidensiële benoeming. Trump wou teenoor NBC News nie enige opvolger ondersteun nie:
# Olimpiese Spele: Die voormalige plaaslike Olimpiese kampioene, Alberto Tomba en Deborah Compagnoni, gaan die eer hê om die Olimpiese vlamme aan te steek wanneer die Milano Cortina-Winterspele môre in Noord-Italië begin. Die atlete, nou in hul 50’s, het albei drie goue medaljes verower en word gesien as van die gewildste Italiaanse atlete van hul era. Tomba sal die vlam aansteek aan die einde van die openingsplegtigheid in Milaan, terwyl Compagnoni ’n tweede vlam sal aansteek in die mede-gasheerstad, Cortina d’Ampezzo.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-426-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-864-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Direktoraat Stedelike Beweeglikheid en die Universiteit van Kaapstad gaan binnekort ‘n projek van stapel stuur wat elektriese busse op die MyCiTi-netwerk sal toets. Die ondersoek van 1,7-miljoen-rand, wat deur die metro en die eBRT2030-konsortium befonds word, sal vir ongeveer ‘n jaar tot vier e-busse oor verskeie roetes instel. Amptenare sal battery-werkverrigting, laaitye, passasiersvragte en koste beoordeel, voor die volledige ontplooiing, wat vir volgende jaar beplan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….