Nuus 14:00
BULLETIN 3 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier is gekant teen ‘n getuie se uitstelaansoek
# Oekraïne se hoofstad loop weer deur onder Russiese aanvalle
# En ‘n opname bevind die rand is onderwaardeer ondanks onlangse winste
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier, Matthew Chaskalson, vra dat ‘n getuie wat deur Hartley Ngoato verteenwoordig word, se aansoek om uitstel geweier word. Chaskalson sê die getuie het van die verhoordatum geweet en het 12-dae tevore WhatsApp-boodskappe hieroor ontvang, maar nogtans die verrigtinge vertraag. Hy voer aan die jongste aansoek, wat verbind word met ‘n interdik vanaf die Hooggeregshof, misbruik die proses. Chaskalson versoek die kommissie om die boodskappe te wys:
# Solidariteit het ‘n aanmaningsbrief aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging gestuur oor die hantering van die Transformasiefonds. Die regering gaan ‘n hersiene formaat bekendstel waar ondernemings 30 swart ekonomiese bemagtigings-punte kan verdien indien drie-persent van die netto wins ná belasting tot die fonds bygedra word. Anton van der Bijl van Solidariteit sê belastingbetalers het die reg om te weet hoe hulle geld aangewend word:
Nuus uit die buiteland:
# Russiese magte het vroeg vanoggend Oekraïne se hoofstad, Kiëf, die tweede grootste stad, Kharkiv, en ander sentrums aangeval. Volgens amptenare het die aanvalle brande veroorsaak en skade aan energie-infrastruktuur aangerig, en vier mense is beseer. Die aanvalle het saamgeval met sprake van ‘n moratorium op aanvalle op energie-infrastruktuur wat Rusland en Oekraïne aanvaar het op versoek van die Amerikaanse president, Donald Trump. Rusland sê die wapenstilstand het Sondag geëindig, terwyl Oekraïne aanvoer dit sou na 30 Januarie vir ‘n week voortduur.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Josh Hazlewood gaan die land se eerste wedstryde van die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka misloop terwyl hy steeds herstel van ‘n dyspier- en ‘n Achilles-besering. Die 35-jarige speler bly intussen in Sydney agter, met geen aanduiding wanneer hy weer gaan speel nie. Sean Abbott is as reisende reserwe by die groep ingesluit. Australië speel Donderdag ‘n opwarmingswedstryd teen Nederland, en hul eerste wedstryd van die toernooi is volgende Woensdag teen Ierland.
# En geldsake: Bloomberg News se opname onder beleggers en ekonome toon die rand is steeds onderwaardeer, met sy waarde van ongeveer 16-rand teen die dollar, en deelnemers wat die regverdige waarde op ongeveer 15-rand-64 plaas. Die geldeenheid het vanoggend rondom 16-rand verhandel, ‘n styging van drie-persent vanjaar ná sterk winste van 14-persent in 2025. Optimisme is aangevuur deur vordering met hervorming, sterk metaalpryse en buitelandse beleggings. Die Reserwebank verwag ‘n mate van verswakking en waarsku die rand bly kwesbaar vir druk vanaf wêreldmarkte en prysskommelings in grondstowwe soos olie en gas.
Die rand verhandel tans teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-396-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-915-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….