Nuus 14:00
BULLETIN 2 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nuwe hof-aansoek word ingedien om Mothibi se aanstelling te stuit
# Die Britse minister van Buitelandse Sake gaan op migrasie fokus tydens haar besoek aan Ethiopië
# En krieket: Pakistan gaan die wedstryd teen Indië in die T20-Wêreldbekertoernooi boikot
# B Xulu en Vennote het ‘n dringende aanvullende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien teen Andy Mothibi se aanstelling as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Sy ampstermyn het vandag begin na Shamila Batohi se vertrek. Advokaat Barnabas Xulu voer aan president Cyril Ramaphosa se aanstelling is onregmatig en moet tersyde gestel word, met verwysing na ‘n gebrekkige en bevooroordeelde onderhoudsproses. Die Presidensie sê intussen hy sal in die hof reageer, terwyl die Ministerie van Justisie ten sterkste gekant is teen die aansoek en dit ongegrond noem.
# Young Intelligent Minds of South Africa vra die Parlement om strenger misdaadbeheermaatreëls te oorweeg, insluitend ‘n landwye aandklokreël. Jeffrey Mabunda van die organisasie het in Mbombela, Mpumalanga, ‘n aandklokreël van tienuur in die nag tot vieruur in die oggend voorgestel, asook vroeëre sluiting van drinkplekke. Hy dring daarop aan dat die Weermag ontplooi word om die polisie te ondersteun om toenemende misdaad te bekamp:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, gaan haar besoek aan Ethiopië, wat vandag begin, gebruik om te fokus op maatreëls om die toenemende getalle migrante uit die Horing van Afrika na haar land te beperk. Sowat 30-persent van diegene wat die afgelope twee jaar die Engelse Kanaal oorgesteek het, was burgers van Ethiopië, Eritreë, Somalië en Soedan. Cooper sê werkskeppingsvennootskappe sal sorg vir minder migrante uit Ethiopië, en strenger wetstoepassingsamewerking is noodsaaklik om smokkelbendes uit te roei en migrante se terugkeer te bespoedig.
# Krieket: Pakistan gaan aan die T20-Wêreldbekertoernooi deelneem nadat hy voorheen gedreig het om dit te boikot. Hy sal egter nie volgende Sondag in Colombo teen die medegasheer, Indië, speel nie. Pakistan en Indië het mekaar weens politieke spanning sedert 2013 nog nie buite die groot toernooie gepak nie. Bangladesj het reeds onttrek uit vrees vir sy spelers se veiligheid indien hulle na Indië sou reis. Die Internasionale Krieketraad sê Pakistan se posisie van selektiewe deelname is moeilik om te versoen met die basiese vertrekpunt van ‘n internasionale sportgeleentheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-502-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-683-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, het deelgeneem aan ‘n boomplantprojek by die Khayelitsha-hospitaal in Kaapstad. Die wêreldwye Moederwoud-boomplantprojek het ten doel om groen ruimtes te herstel en omgewingsbewaring te bevorder met die beginsel van ‘n ma se liefde om lewe en gesondheid te herstel. Aucamp sê Suid-Afrika het verlede jaar sy teiken oortref toe ‘n miljoen bome op ‘n enkele dag geplant is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….