Nuus 14:00
BULLETIN 29 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stig ‘n nuwe eenheid om die Madlanga-kommissie se bewerings te ondersoek
# China stel 11 lede van ‘n omstrede familie tereg
# En padwedlope: Die Twee Oseane-marathon verhoog sy prysgeld tot 2,6-miljoen-rand
# President Cyril Ramaphosa het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, opdrag gegee om ‘n nuwe spesiale ondersoektaakspan te stig om die Madlanga-kommissie se bewerings te ondersoek. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa het die tussentydse verslag bestudeer en verwelkom verwysings van sake vir onmiddellike strafregtelike ondersoek en dringende besluite rakende vervolging:
# Die dodetal in ‘n botsing tussen ‘n vragmotor en ‘n minibustaxi op die R103 in Isiphingo, KwaZulu-Natal, het tot elf gestyg. Die provinsiale Departement van Vervoer se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê ses mense is ernstig beseer en na die naaste hospitaal geneem. Hy sê hierdie ongeluk volg nadat die provinsie ‘n geskiedkundige afname van 18-persent aangeteken het in sterftes tydens die feestyd:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die regering se doelwit is om die hele land se beeskudde van sowat 14-miljoen diere teen bek-en-klouseer in te ent. Hy sê byna twee-miljoen diere is reeds ingeënt sedert die begin van die uitbreking. Steenhuisen voeg by die regering, in vennootskap met die privaat sektor, beplan om 80-persent van die inentings teen einde Desember af te handel:
Nuus uit die buiteland:
# China het elf lede van die berugte Ming-familie-misdaadbende tereggestel nadat hulle skuldig bevind is aan onder meer moord, onwettige aanhouding en bedrog. Die Ming-familie was een van die vier misdaadsindikate in die noorde van Mianmar wat aangekla is van internetbedrog, prostitusie en dwelmhandel. Nog vyf mense het doodvonnisse gekry wat vir twee jaar opgeskort is en elf is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die familie se hoof, Ming Xuechang, ‘n lid van Mianmar se Parlement, het selfdood gepleeg terwyl hy in aanhouding was.
# Padwedlope: Die ikoniese Twee Oseane-marathon in Kaapstad het aangekondig dat die algehele prysgeld vir vanjaar tot 2,6 miljoen-rand verhoog word. Die ultra-marathon sal 2,1-miljoen-rand se prysgeld aanbied en die halfmarathon meer as 420-duisend-rand. Die voorsitter van die marathon, Chris Goldschmidt, sê deur die prysgeld vir 2026 te verhoog, erken hulle die toewyding en talent van elite-atlete, en verhoog hulle ook die aansien van die byeenkoms op die wêreldverhoog. Die wedloop sal die naweek van 10 tot 12 April plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-811-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-512-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….