Nuus 14:00
BULLETIN 23 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bevestig sy mediumtermyn-ontwikkelingsplan-keuses
# Die dodetal in die Oos-Kaapse skoolskietery styg tot drie
# En krieket: Suid-Afrika verseker sy plek in die Super Ses-ronde van die Onder-19-Wêreldbekertoernooi
# Die minister in die Presidensie vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê die sewende administrasie het die tradisie van vyf-jaar-beplanning voortgesit deur die Mediumtermyn Ontwikkelingsplan vir 2024 tot 2029. Sy het die regering se prestasie teenoor die plan uiteengesit. Ramokgopa sê dit belyn regeringsbeplanning, begroting, die instel en toesig oor alle gebiede, en is geanker op inklusiewe ekonomiese groei, die vermindering van armoede en lewenskoste:
# Die Oos-Kaapse Departement van Onderwys het bevestig nog ‘n onderwyseres is dood ná ‘n skietery by Ntabankulu Junior Secondary School, wat die dodetal op drie te staan bring, insluitend die vermeende aanvaller. Polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê die voormalige onderwyser, wat uit was op borgtog vir seksuele aanranding, het toegang tot die skoolterrein verkry en drie onderwyseresse geskiet voordat hy sy eie lewe geneem het. Een onderwyseres is op die toneel dood en een in die hospitaal, en die derde is ernstig beseer. Die departement bevestig klasse hervat Maandag.
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta sê kinders mag nooit ly as gevolg van ‘n gebroke onderwysstelsel nie. Hy het die betogings buite Addington Primary School in Durban, KwaZulu-Natal, veroordeel. Volgens Makaneta is leerders vasgevang in die woede rondom oorvol skole en swak infrastruktuur. Hy sê die ware verantwoordelikheid lê by die regering, wat skole en regeringsmislukkings moet regstel om kinders se reg op onderwys te beskerm:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het bevestig die Franschhoekpas is heropen ná voortgesette brandbestrydingsoperasies teen ‘n brand in die berge bo Franschhoek. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê vlamme aan die regterkant van die pas, in die rigting van Villiersdorp, het vroeg vanoggend nabygeleë eiendomme bedreig. Brandweerspanne kon die brand in bergagtige gebiede onder beheer hou en plase en gastehuise beskerm. Spanne gaan voort met inperkings, monitering en opruimingsbedrywighede.
# Krieket: Suid-Afrika het gekwalifiseer vir die Super Ses-ronde van die Onder-19-Wêreldbekertoernooi in Namibië en Zimbabwe, ondanks hulle nederlaag van 55 lopies teen die Wes-Indiese Eilande in hul laaste Groep D-wedstryd. Suid-Afrika het ook hul openingswedstryd teen die voorloper op die punteleer, Afganistan, met 28 lopies verloor, met hul enigste oorwinning een van 329 lopies oor Tanzanië. Suid-Afrika pak die verdedigende kampioen, Australië, en Sri Lanka in die Super Ses-afdeling, waarna drie uit die vier spanne in elke groep deurgedring het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-987-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-929-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….