Nuus 14:00
BULLETIN 19 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa bring hulde aan leerders wat in die Gautengse skoolvervoertragedie sterf
# Inwoners van Knysna word gemaan om water te spaar met Dag Zero wat nader kom
# En sokker: Die Departement van Sport sluit ‘n geskiedkundige ooreenkoms met FIFA
# President Cyril Ramaphosa sê vanoggend se dodelike skoolvervoer-ongeluk in Gauteng is veral ontstellend omdat dit gebeur het op dieselfde dag dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ‘n verslag oor leerdervervoer in Noordwes gepubliseer het. Minstens 12 leerders is vanoggend dood toe hul voertuig naby Vanderbijlpark met ‘n vragmotor gebots het. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê gesinne en skole sal die nodige psigo-maatskaplike ondersteuning ontvang:
# Die Departement van Water en Sanitasie gee die Knysna-munisipaliteit in die Wes-Kaap die skuld vir die waterkrisis weens jarelange swak instandhouding. Die Akkerkloofdam se watervlak is nou op sowat 15-persent terwyl Dag Zero naderkom. Amptenare waarsku hoë seisoenale vraag en paniekaankope kan die situasie vererger. Owerhede werk aan korttermynmaatreëls terwyl hulle inwoners aanspoor om water te bespaar en te hoop op dringende ingryping of reënval.
# Eskom is besig met die bekendstelling van ‘n nuwe diensmodel met geskeduleerde mobiele kliëntesentrums en opwip-dienspunte oral in gemeenskappe. Die mobiele aanbiedinge is bykomend tot die kragverskaffer se fisiese kantore, wat steeds in strategiese en toeganklike gebiede bedryf word. Eskom se waarnemende groepsbestuurder vir Verspreiding, Agnes Mlambo, sê die hibriede model bied vinniger toegang tot bystand, ondersteun diensverbeterings en skep meer geleenthede vir regstreekse kliënte-betrokkenheid. Sy voeg by dat hulle wegbeweeg van ‘n statiese diensmodel na ‘n dinamiese, kliënt-gesentreerde benadering.
Nuus uit die buiteland:
# Die dood van minstens 39 mense is bevestig nadat ‘n sneltrein ontspoor en met ‘n aankomende trein gebots het in die suide van Spanje. Dit is die grootste treinongeluk in die land sedert 2013. Nooddienste sê 122 mense is beseer, met 48 wat steeds in die hospitaal is en 12 in hoësorg. Die botsing het naby Adamuz in die Cordoba-provinsie plaasgevind, ongeveer 360-kilometer suid van die hoofstad, Madrid. Die twee treine het 400 passasiers vervoer, die meeste Spanjaarde wat na en van Madrid gereis het na die naweek.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het ‘n samewerkingsooreenkoms met FIFA Development Zurich AG onderteken vir die totstandkoming van ‘n ten volle ondersteunde FIFA-streekontwikkelingskantoor in Johannesburg. Woordvoerder Zimasa Velaphi sê dit bied ‘n raamwerk vir Suid-Afrika om die wêreldbeheerliggaam se administratiewe bedrywighede in die land te bemiddel terwyl FIFA verantwoordelikheid aanvaar vir die befondsing en personeel van die kantoor, wat Suid-Afrika en buurlande sal bedien:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-954-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-668-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….