Nuus 14:00
BULLETIN 14 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die goudprys bereik ‘n rekordhoogtepunt
# KPMG verwelkom Suid-Afrika se verwydering van die EU se hoërisiko-jurisdiksielys
# En sokker: CAF ondersoek beweerde wangedrag tydens die Afrikabekertoernooi
# Die uiters vername Suid-Afrikaanse uitvoerproduk, goud, het vanoggend tot ‘n rekordhoogtepunt van meer as vier-duisend-600-dollar per fynons gestyg. Dit het die rand se waarde in vroeë handel versterk, met wêreldmarkte wat steeds belangrike Amerikaanse inflasie-aanwysers beoordeel, aangesien dit leidrade kan bied oor die Federale Reserweraad se planne vir rentekoerse. Die navorsingsdirekteur van BullionVault, Adrian Ash, sê die goudprys het sedert Nuwejaarsdag met meer as 68-persent gestyg, wat die hoogste styging sedert 1979 is. Beleggers beskou goud ook as ‘n veilige hawe in tye van geopolitieke spanning.
# KPMG het die Europese Unie se besluit verwelkom om Suid-Afrika van 29 Januarie van sy lys van hoë-risiko-lande te verwyder. Die stap volg na Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys in Oktober. Frank Blackmore van KPMG het aan Newzroom Afrika gesê die besluit sal handels-, betalings- en beleggingsvloei vergemaklik. Hy het beklemtoon nog werk is nodig om stelsels teen geldwassery en terreur-finansiering te versterk:
# Die onderwysersvakbond, SADOU, verwelkom gratis skole se geleidelike verbetering in die Nasionale Senior Sertifikaat. Die klas van 2025 het ‘n nasionale slaagsyfer van 88-persent behaal, wat 0,7-persent beter is as in 2024. SADOU se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê meer as 66-persent van leerders van gratis skole het met universiteitstoelating geslaag. Hy sê die regering moet leerders en personeel by hierdie skole meer ondersteun:
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê intussen die provinsiale regering sal met die aanvang van die skooljaar fokus op skoolveiligheid. Hy sê die provinsiale Onderwysdepartement se Veilige Skole-program toon vordering, met die fokus op veiligheids-omheinings, sekerheidstelsels en geteikende ontplooiing van wetstoepassing. Winde beklemtoon die gebruik van tegnologie en vernuwing. Hy voeg by die provinsie sal voortgaan om met die polisie saam te werk om nuwe veiligheidsmodelle te ontwikkel:
# Sokker: Afrika se beheerliggaam, CAF, het ‘n ondersoek begin na beweerde wangedrag deur spelers en amptenare tydens die Afrikabekertoernooi in Marokko. CAF sê wedstrydverslae en videomateriaal van die kwarteindstryd tussen Marokko en Kameroen, asook dié tussen Nigerië en Algerië, is ondersoek. Die voorvalle is na sy dissiplinêre raad verwys. CAF ondersoek ook beweerde wangedrag deur lede van die media in die gemengde sone tydens die toernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-198-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-634-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….