Nuus 14:00
BULLETIN 13 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank hersien die prima-uitleenkoers
# Die Nasionale Vergadering debatteer sleutel-begrotings- en belastingwette
# En krieket: Faf du Plessis gaan die res van die SA20 misloop weens ‘n duimbesering
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is tans besig met ‘n hersieningsproses oor die prima-uitleenkoers – die hoofverwysingskoers wat handelsbanke gebruik om geld aan Suid-Afrikaners te leen. Die sentrale bank oorweeg glo om die gaping te vernou tussen die prima-uitleenkoers van 10,5-persent en die terugkoopkoers waarteen die Reserwebank geld aan banke leen, tans op sewe-persent. Die verskil van 3,5-persent is vanaf 2001 van krag. Momentum se hoofekonoom, Sanisha Packirisamy, sê dit kan oor die korttermyn verbruikers se skulddienskoste verminder.
# Die Nasionale Vergadering vergader vandag om verskeie belangrike wetsontwerpe te oorweeg, insluitend die Wetsontwerp op Spesiale Toewysings, die Wetsontwerp op Aanpassings-toewysings, en wysigings aan belastingwette. Die Wetsontwerp op Spesiale Toewysings beoog bykomende befondsing vir die Gesondheidsdepartement om tekorte te dek wat veroorsaak is deur die onttrekking van internasionale skenkerbefondsing in die huidige boekjaar. Die wetsontwerpe is tydens die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring ingedien. Parlementslede sal ook die portefeuljekomitee vir Justisie se Begrotingshersienings- en Aanbevelingsverslag oorweeg.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê 2025 se matriekuitslae toon vordering in die land se basiese onderwyssektor, veral in KwaZulu-Natal. ‘n Rekord-slaagsyfer van 88-persent is in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal, met KwaZulu-Natal as die beste presterende provinsie. Makaneta waarsku die slaagsyfer moenie beskou word as die enigste maatstaf van sukses nie:
Intussen het Soil of Africa die regering, die privaat sektor en die burgerlike samelewing gevra om die pad te versterk vir leerders wat skool verlaat. Die beweging se voorsitter, Bongani Ramontja, sê die amptelike matriekslaagsyfer toon duidelik vooruitgang is moontlik wanneer fokus, verantwoordbaarheid en gesamentlike poging toegepas word. Hy sê onderwys moenie in graad 12 eindig nie:
# Krieket: Die kaptein van Joburg Super Kings, Faf du Plessis, gaan die res van die SA20 misloop nadat hy ‘n duimbesering opgedoen het tydens Saterdag se wedstryd teen MI Cape Town op die Wanderers. Die span het bevestig die 41-jarige voormalige Protea-kaptein moet ‘n operasie ondergaan. Du Plessis was tot dusver in goeie vorm tydens die toernooi en het altesaam 135 lopies in hul eerste sewe wedstryde aangeteken, met JSK tans derde op die punteleer. Donovan Ferreira sal na verwagting die kapteinskap oorneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-107-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-585-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….