Nuus 14:00
BULLETIN 25 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlahla Mkhwanazi gee opdrag vir die Moord- en Roofeenheid om die massamoord in KwaMakhutha te ondersoek
# Minister Kgosientsho Ramokgopa lui die “Eskom 2.0”-era in [KLANK]
# En sokker: Amajita speel vandag teen Zambië in die halfeindronde van die COSAFA-beker
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlahla Mkhwanazi, het die polisie se Moord- en Roofeenheid opdrag gegee om ondersoek in te stel na die moord op elf mense wat Dinsdagaand in die Ziko-gebied in KwaMakhutha, Durban, doodgeskiet is. Veertien mense was in ‘n huis toe drie aanvallers met vuurwapens losgebrand het. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê tien slagoffers is op die toneel dood, terwyl nog een in die hospitaal beswyk het:
# Die Pretoriase Handelsmisdaadhof het die saak teen die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en sy twee maatskappye tot Dinsdag uitgestel. ‘n Woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Henry Mamothame, sê Matlala sal na verwagting weer by 13 medebeskuldigdes aansluit in die Pretoriase Streekhof oor die Medicare 24 Tshwane-distrikskontrak van 228-miljoen-rand. Mamothame sê Matlala en sy twee maatskappye is voorheen geskei nadat hy aangedui het dat hy ‘n pleit-en-vonnisooreenkoms sou aangaan, maar het dit later teruggetrek. Al die beskuldigdes staan tereg op korrupsie-aanklagte oor die beweerde onreëlmatige toekenning van die tender.
# Suid-Afrika se elektrisiteitsnetwerk betree ‘n nuwe era. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê “Eskom 2.0” moet sonder staatshulp kan voortbestaan. Hy het aan die media gesê namate kragopwekking verbeter, sal die fokus verskuif na strukturele veranderinge, netwerk-uitbreiding en markmededingendheid. Ramokgopa beklemtoon die herhaalde fiskale steun en dubbelsyfer-tariefverhogings is onvolhoubaar. Hy sê bekostigbare elektrisiteit is noodsaaklik vir nywerheidsgroei en die beskerming van huishoudings teen stygende lewenskoste:
Nuus uit die buiteland:
# Katar se Ministerie van Buitelandse Sake het die Houthis van Jemen veroordeel vir die afvuur van ballistiese missiele na die stede Taif en Yanbu in Saoedi-Arabië. Saoediese lugverdediging het ses ballistiese missiele onderskep wat deur die Irans-geallieerde groep afgevuur is. Verlede week het hulle ‘n hommeltuig onderskep wat die Houthi’s na Mekka gelanseer het. Katar beskou die aanvalle as ‘n afkeurenswaardige vyandige daad en ‘n onaanvaarbare minagting vir burgerlike lewens, sowel as ‘n blatante skending van Saoedi-soewereiniteit. Hulle het die noodsaaklikheid van ‘n onmiddellike beeïndiging bevestig.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse onder-20-mansspan het nog net een oorwinning nodig om te kwalifiseer vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi. Amajita berei voor om vandag in Matola, Mosambiek, teen Zambië te speel in die halfeindronde van die COSAFA-beker, met ‘n plek in die Afrikabekertoernooi op die spel. Albei spanne het die groepfase afgesluit met nege punte na drie oorwinnings. Amajita se hoofafrigter, Raymond Mdaka, sê Zambië is ‘n moeilike teenstander, maar sy spelers is gereed vir die uitdaging.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-696-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-302-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….