Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof verwerp ‘n aansoek om die verkiesing uit te stel
# AfriForum veroordeel die Wet op Haatspraak
# En, tennis: Die naaswenner in die meisies-enkelspel op Wimbledon word positief getoets vir ‘n verbode opkikker
# Die Konstitusionele Hof het African Congress for Transformation, die Labour Party of South Africa, en Afrikan Alliance of Social Democrats se versoek verwerp om die verkiesing uit te stel. Die partye het die hof genader nadat hulle die spertyd vir kandidaatlyste misgeloop het, en betoog die Verkiesingskommissie se aanlyn portaal was foutief. Die hof het beslis die partye het nie voldoende bewyse gelewer nie en dit sou duur wees om die verkiesing uit te stel. Die OVK het aangevoer sy aanlyn stelsel was funksioneel en uitstel sou die land byna 600-miljoen-rand kos.
# Die United Independent Movement eis die verwydering van die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga. Hulle steun die ACDP in sy teenstand teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Die beweging is ten gunste van die beveiliging van die regte van ouers, die welstand van kinders en die integriteit van onderwys. Die UIM se adjunkpresident, Fatima Abdool, kritiseer die regering se poging om ouers uit te sluit van hulle rol in ouerskap en onderwys:
# AfriForum spreek hom sterk uit teen die inwerkingtreding van die Wet op Haatspraak. Die hoof van Openbare Betrekkinge, Ernst van Zyl, waarsku oor die moontlike misbruik van die wetgewing en beweer dit druis in teen landsburgers se vryheid van spraak. Volgens Van Zyl verbreed die wet die definisie van skade, grondwetlike regte word afgewater, en haatspraak teen minderheidsgroepe word vererger. Hy is besorg oor ongelyke behandeling gegrond op die inhoud van spraak weens die regering se vooroordeel:
# Tennis: Die naaswenner in verlede jaar se enkelspel vir meisies op Wimbledon is voorwaardelik geskors. Die Tjeggiese speler Nikola Bartunkova het vroeër vanjaar positief getoets vir ‘n verbode opkikker in toernooie in Slowakye en Slowenië. Dit is dieselfde middel wat aangetref is in die Russiese sierskaatser Kamila Valieva en 23 Chinese swemmers wat voorberei het vir die Olimpiese Spele in Tokio in 2021. Die 18-jarige Bartunkova mag nie speel voor haar tugverhoor nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-936-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy diepe leedwese betuig met die dood van die oudregter van die Konstitusionele Hof, Yvonne Mokgoro. Die hooggeagte regsgeleerde, ‘n lid van die Orde van die Kremetart, is gister oorlede weens komplikasies nadat sy verlede April in ‘n voertuigongeluk betrokke was. Die president het erkenning gegee aan haar waardevolle bydrae tot reg en geregtigheid. Volgens hom het die 73-jarige se nalatenskap ‘n pioniersrol vervul in die posisie van vroue in die Suid-Afrikaanse regslandskap. Sy word onthou as ‘n verdediger van geregtigheid, menswaardigheid en die Grondwet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….