Nuus 14:00
BULLETIN 8 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê bewerings deur onbevestigde ad hoc-komiteegetuies kan die proses ontspoor
# Tennis: Sabalenka beïndruk in ‘n opwarmingswedstryd vir die Australiese Ope
# En die Suid-Afrikaanse tekenprent David oortref alle verwagtinge
# ActionSA se lid van die parlementêre ad hoc-komitee oor politieke inmenging in die regstelsel, Darleen James, waarsku bewerings deur onbevestigde getuies kan die ondersoekproses ontspoor. Sy het tydens vanjaar se eerste sitting gevra vir sterker bevestiging, meer regshulpbronne en verbeterde getuiebeskerming. James steun die EFF se oproepe vir bykomende hulpbronne en eis dat die aktivis Paul O’Sullivan persoonlik verskyn. Sy sê Suid-Afrikaners verwag beslissende, geloofwaardige uitkomste:
Intussen steun KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, vir ‘n tweede termyn wanneer sy kontrak in Maart eindig. Dit volg ná ‘n vergadering met nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola. Mkhwanazi is geprys vir sy sterk misdaadbestrydende leierskap en die blootlegging van beweerde politieke inmenging en korrupsie in wetstoepassing. Sy optrede het gelei tot die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee. Ntuli sê hy is tevrede met Mkhwanazi se prestasie en wil voortgesette wetstoepassing hê.
# Die DA in die Wes-Kaap sê hy ondersteun inwoners van Mosselbaai ná die verwoestende brande wat huise verwoes en lewens ontwrig het. Die party het sy innige meegevoel uitgespreek teenoor gesinne geraak is, sowel as sy dankbaarheid teenoor brandbestryders en vrywilligers wat hul lewens gewaag het. DA-lid Venolea Fortuin sê hulle ondersteun die Mosselbaai-munisipaliteit se pogings om die verwoesting te bestry, en vra inwoners om steeds saam te staan:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, sê sy kan steeds verbeter ná ‘n tweede oorheersende oorwinning in die Brisbane-internasionale toernooi in Australië. Sabalenka het die 36-jarige Roemeense speler Sorana Cirstea 6-3, 6-3 verslaan. Sabalenka, van Belarus, speel volgende teen die Amerikaner Madison Keys, wat haar in die eindstryd van verlede jaar se Australiese Ope geklop het. Sabalenka mik na ‘n derde Australiese Ope-titel in vier jaar wanneer die eerste Grand Slam van die jaar die 18de in Melbourne begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-984-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-423-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Suid-Afrikaans-vervaardigde animasierolprent het een van die land se grootste suksesverhale in teaters opgelewer en reeds sowat 1,5-miljard-rand by kaartjiekantore wêreldwyd ingesamel. David het internasionaal in die tweede plek geopen, net ná die nuutste Avatar-rolprent. Die Kaapstadse rolprentmaker Phil Cunningham sê hierdie reaksie het alle verwagtinge oortref en noem dit ‘n mylpaal-oomblik vir plaaslike rolprentvervaardiging. David is ‘n geloofsgebaseerde storie, maar Cunningham sê dit sal ‘n veel groter gehoor lok. Meer as 400 kunstenaars vanaf 32 lande het daaraan gewerk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….