Nuus 14:00
BULLETIN 6 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Europa verwerp Trump se uitsprake oor Amerika wat Groenland vir nasionale veiligheid benodig
# DIRCO doen ‘n beroep op die VN vir ‘n Veiligheidsraads- vergadering oor die aanval in Venezuela
# En tennis: Die Russies-gebore Daria Kasatkina is onder druk wanneer sy vir Australië speel
# Amerika se Europese bondgenote verwerp president Donald Trump se jongste eis dat sy land Groenland nodig het vir nasionale veiligheidsbehoeftes. Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het aan Sky News gesê slegs Groenland en Denemarke kan die gebied se toekoms bepaal. Die Duitse regering sê grense moenie met geweld verskuif word nie, en voer reeds hieroor gesprek met Denemarke en ander Europese Unie-lande. Die Europese Kommissie sê die EU gaan voort om die beginsel van nasionale soewereiniteit te handhaaf en steun Denemarke ten volle.
Die DA beskuldig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking intussen van skynheiligheid en teenstrydigheid. Dit volg nadat die departement die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gevra het vir ‘n dringende vergadering om die inhegtenisneming van Venezuela se president, Nicolás Maduro, en vervolging in Amerika te bespreek. Dit het gister plaasgevind. Die DA-lid, Ryan Smith, sê die departement het nie ‘n soortgelyke standpunt ingeneem oor Rusland se inval in Oekraïne nie:
# Discovery Health het ‘n aantal lede versoek om die mediese fonds terug te betaal nadat ‘n verwerkingsfout veroorsaak het dat eise verkeerdelik teen ‘n hoër koers uitbetaal is, meer as wat hul plan se voordele toelaat. Die fout hou verband met die bo-drempelvoordeel op die Executive-, Classic Comprehensive-, Classic Smart Comprehensive-, Classic Priority– en Essential Priority-plan. Discovery Health het nie die aantal betrokke lede of die algehele bedrag bekendgemaak nie, maar sê min van sy lede en slegs sekere lede op die vyf planne word geraak.
# Die Departement van Basiese Onderwys het kandidate vir die Nasionale Senior Sertifikaat wat nie suksesvol was met hul eerste poging in die eksamen nie, aangemoedig om van die amptelike Tweede Kans-program gebruik te maak. Kandidate wat daarvoor kwalifiseer, kan registreer om sonder betaling vakke te herskryf of by te voeg, in ooreenstemming met die departement se beleid vir die Mei/Junie-eksamen. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê die program is gratis beskikbaar:
# Tennis: Die Russies-gebore Daria Kasatkina erken sy verkeer onder druk om goed te speel vir Australië nadat sy verlede jaar haar burgerskap verander het. Die 28-jarige wêreld-nommer-40 het in Maart oorgeloop nadat sy Moskou se oorlog teen Oekraïne as ‘n nagmerrie bestempel het. Sy het Sondag in die Brisbane-toernooi die eerste keer vir haar aangenome land gespeel, waar sy verloor het teen haar gewese landgenoot Anastasia Potapova, wat nou vir Oostenryk speel. Nog twee Russe, Kamilla Rakhimova en Maria Timofeeva, het verlede jaar Oesbekistanse burgerskap aanvaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-480-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-450-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….