Nuus 14:00
BULLETIN 17 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Redcliffe-tempelramp word tot ‘n misdaadtoneel verklaar
# Krieket: Die Protea-mans verkeer onder druk in die voorlaaste T20 teen Indië
# En ‘n barmhartige Samaritaan betaal bêrekoop-skuld van 132-duisend-500-rand in ‘n Oos-Kaapse PEP Stores
# Die instorting van die Redcliffe-tempel in eThekwini, KwaZulu-Natal, is amptelik tot ‘n misdaadtoneel verklaar. Vyf mense is dood. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê vroeë ondersoeke toon ernstige foute, insluitend onbelynde strukture, geen goedgekeurde bouplanne of permitte nie, en tekens dat die gebou sonder sertifisering gebruik is. Hy sê die terrein sal aan die Departement van Indiensneming en Arbeid oorhandig word vir verdere ondersoek:
# Please Call Me se uitvinder, Kenneth Makate, verwerp arbitrasie met sy voormalige regsbefondser, Black Rock Mining, wat 40-persent van sy skikking ter waarde van honderde-miljoene-rand met Vodacom eis. Berigte skat die uitbetaling op tussen 353- en 748-miljoen-rand. Black Rock hou vol Makate se verteenwoordiger, die sakeman Christiaan Schoeman, het ‘n geldige befondsingsooreenkoms onderteken. Daarvolgens moes die onderneming alle regskoste dek in ruil vir 40-persent van die uiteindelike uitbetaling. Makate betwis dit en sê die ooreenkoms is gekanselleer, maar Black Rock hou vol die arbitrasie sal voortgaan.
# Die ma van ‘n nie-verbale outistiese tiener het haar tot AfriForum se privaat vervolgingseenheid gewend nadat die Nasionale Vervolgingsgesag geweier het om haar man, ‘n welgestelde privaat skooleienaar van KwaZulu-Natal, te vervolg vir jare se huishoudelike geweld. Woordvoerder Barry Bateman sê dis ondanks bewyse wat opnames, foto’s en mediese verslae insluit. Hy sê AfriForum is besig om die dossier na te gaan en oorweeg privaat vervolging:
# Krieket: Die Protea-mansspan is onder druk in vandag se vierde T20 teen Indië in Lucknow. Hulle is 2-1 agter in die reeks van vyf wedstryde en moet wen om ‘n reeksnederlaag te vermy. Die gashere het die eerste en die derde wedstryd in onderskeidelik Cuttack en Dharamsala gewen, terwyl die Proteas in die tweede een in Nieu-Chandigarh geseëvier het. Indië het die eendagreeks 2-1 beklink het. Die laaste T20 word Vrydag in Ahmedabad gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-668-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-320-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: Personeel en klante van ‘n PEP Stores in Aberdeen in die Oos-Kaap was verstom toe ‘n anonieme Barmhartige Samaritaan, met die bynaam Lay-by Buddy, alle bêrekoop-skuld betaal het. Altesaam 260 paaiemente ter waarde van 132-duisend-500-rand is betaal, wat gesinne gehelp het om net betyds vir die feestyd skooltoerusting, babaklere en noodsaaklikhede te bekom. PEP sê hierdie projek ondersteun 150-duisend gesinne sedert 2020.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….