Nuus 14:00
BULLETIN 15 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie bevestig die Madlanga-kommissie se finale verslag sal openbaar gemaak word, maar nie die tussentydse een nie
# Die held wat die Bondi-aanvaller ontwapen het, herstel na ‘n operasie
# En rugby: Die Stormers se afrigter verwag Saterdag ‘n reusestryd teen die Leeus
# Die Presidensie gee die versekering die Madlanga-kommissie se finale verslag sal openbaar gemaak word. Woordvoerder Vincent Magwenya beklemtoon dit sal gebeur sodra die kommissie sy werksaamhede afsluit, met leiding oor nasionale veiligheid-sensitiewe gebiede, om deursigtigheid te verseker terwyl kritieke inligting beskerm word. Die tussentydse verslag sal egter privaat bly terwyl van die getuies nog volledige getuienis moet lewer. Magwenya beklemtoon geen regstappe sal volg weens die tussentydse verslag nie:
# Activists and Citizens Forum sê die keuse van Suid-Afrika se volgende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging moet volgens meriete wees en nie politiek nie. Die forum kritiseer die ampstermyn van die uittredende direkteur, Shamila Batohi, weens verlore sake, insluitend korrupsie, geslagsgeweld en staatskapings-aangeleenthede. Woordvoerder Dennis Bloem waarsku dat misdaad toeneem terwyl oortreders die Nasionale Vervolgingsgesag uitbuit. Hy sê president Cyril Ramaphosa moet die belange van die nasie voorop stel:
# Die vakbondfederasie Saftu waarsku Suid-Afrikaners om nie om die bos gelei te word deur die Amerikaanse president, Donald Trump, se rassistiese en xenofobiese uitsprake nie. Woordvoerder Asive Dyani sê Trump gee migrante en buitelanders die skuld vir maatskaplike krisisse wat deur kapitalisme geskep is, en keer daarmee woede weg van miljardêrs en korporasies en laat werkers teen mekaar draai. Sy sê xenofobie daag nie uitbuiting uit nie, maar beskerm dit:
# ‘n Inwoner van Sydney wat tydens gister se massaskietery op Bondi-strand ‘n geweer by een van die aanvallers afgeneem het, herstel in die hospitaal na ‘n operasie vir koeëlwonde aan sy arm en hand. Die 43-jarige Ahmed al Ahmed is op sosialemedia geïdentifiseer as die omstander wat op die gewapende man afgestorm, sy geweer gegryp en hom op die grond neergegooi het. ‘n Vyftigjarige man en sy 24-jarige seun het die aanval uitgevoer tydens ‘n Hannuka -viering. Vyftien mense is dood en talle meer gewond.
# Rugby: Die Stormers se afrigter, John Dobson, verwag Saterdag ‘n reusestryd in die Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Leeus op hulle tuisveld in Kaapstad. Die gasheer is op ‘n hoogtepunt ná ‘n onoorwonne veldtog tot dusver, wat hulle boaan die punteleer plaas, met die besoekers in die sewende plek ná drie oorwinnings en drie nederlae. Dobson sê tuisoorwinnings is ononderhandelbaar, en kaptein Salmaan Moerat sê Suid-Afrikaanse kragmetings vereis ‘n stap vorentoe ongeag die teenstander.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-776-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-347-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….