Nuus 14:00
BULLETIN 3 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Privaat spoorwegoperateur belê 3,4-miljard-rand in Suid-Afrika se spoorvervoer
# Die Mededingingskommissie verwys agt verskepingsreuse vir vervolging
# En rugby: 2027 se Wêreldbekertoernooi-loting groepeer die Springbokke saam met Italië, Georgië en Roemenië
# Die privaat spoorwegoperateur Traxtion het ‘n belegging van 3,4-miljard-rand in spoorvervoer vir Suid-Afrika aangekondig. Dit behels 1,8-miljard-rand vir lokomotiewe en 1,6-miljard-rand vir treinwaens. Traxtion se uitvoerende hoof, James Holley, sê die belegging sluit 46 diesel-elektriese lokomotiewe in wat van KiwiRail in Nieu-Seeland verkry word. Hy voeg by dit is ten opsigte van vlootgrootte en waarde die grootste privaat vragspoorbelegging in die land se geskiedenis, met ‘n teiken van minstens 60-persent plaaslike inhoud en 662 regstreekse werksgeleenthede.
# Die Mededingingskommissie het agt groot vragverskepingsmaatskappye na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging oor beweerde prysvasstelling. Dit sluit in Maersk, Mediterranean Shipping Company, die Franse vragverskepingsmaatskappy CMA CGM, Evergreen en COSCO Shipping Corporation van China. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle algemene tariefverhogings vasgestel het op roetes wat Suid-Afrika met Asië en Wes-Afrika verbind. Die beweerde samespanning het van 2008 tot 2018 geduur, met identiese tariefverhogings wat gehef is op roetes soos Sjanghai, Ningbo, Shekou en Durban.
# Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het voor die Madlanga-kommissie getuig sy verhouding met die omstrede sakeman Vusimuzi ”Cat” Matlala het in 2022 begin nadat Medicare24 se direkteur, Mike van Wyk, hulle aan mekaar voorgestel het. Dit het later gelei tot die ondertekening van twee ooreenkomste van verstandhouding met Medicare24 en Matlala se CAT BBP-beskermingsdienste. Mkhwanazi word beskuldig van goedkeuring vir die verskaffing van blouligte aan Matlala se onderneming. Hy sê hy het senior amptenare ingelig:
Nuus uit die buiteland:
# Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê Oekraïne bly op koers om by die wêreld se grootste veiligheidsalliansie aan te sluit, maar daar is tans geen eenstemmigheid oor die saak nie. Amerika se 28-punt-vredesplan stel voor dat NAVO nie verder uitbrei nie. Rusland eis dit lankal, asook dat Oekraïne nie tot die alliansie toegelaat word nie. Rutte sê voor Oekraïne as lid aanvaar word, moet al 32 bondgenote eenparig saamstem:
# Rugby: Suid-Afrika sal in Groep B wees saam met Italië, Georgië en Roemenië in 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië. Die amptelike loting het vandag in Sydney plaasgevind. Daar sal die eerste keer 24 spanne wees, wat in ses groepe meeding. Nieu-Seeland, die gasheer, Chili en Hongkong China is in Groep A, en Argentinië, Fidji, Spanje en Kanada in Groep C. Groep D bestaan uit Ierland, Skotland, Uruguay en Portugal. Frankryk, Japan, Amerika en Samoa is in Groep E en Engeland, Wallis, Tonga en Zimbabwe in Groep F.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-183-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-198-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….