Nuus 14:00
BULLETIN 2 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Justisie lei ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Internasionale Strafhof se vergadering
# Suid-Afrika gaan betrekkinge met Mosambiek versterk tydens die vierde Bi-Nasionale Kommissie
# En rugby: Die Blitsbokke wil die foute van Dubai regstel voor die Kaapstadse toernooi
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, lei ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 24ste sitting van die vergadering van state wat partye is tot die Statuut van Rome van die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland. Afgevaardigdes sal die uitdagings vir die statuur bespreek op die weeklange vergadering en na verwagting voorstelle aanvaar oor die funksionering van die hof en die Trustfonds vir Slagoffers. Nel sê Suid-Afrika se deelname beklemtoon sy toewyding aan internasionale geregtigheid en verantwoordbaarheid, en dat slagoffers se stemme gehoor word.
# President Cyril Ramaphosa neem vandag en môre deel aan die vierde Suid-Afrika-Mosambiekse Bi-Nasionale Kommissie in Maputo. Die kommissie het ten doel om bilaterale betrekkinge te versterk. Die Presidensie sê vordering met die inwerkingstelling van besluite en verbintenisse sal beoordeel word, verbeterings aan ekonomiese samewerking sal bespreek word, nuwe gebiede van handel en belegging sal verken word, en menings sal gedeel word oor plaaslike en wêreldwye kwessies van gemeenskaplike belang. Ramaphosa sal ook die amptelike bekendstelling van Sasol se Koolwaterstofverwerkings- geïntegreerde infrastruktuur in Inhassoro bywoon.
# Die DA is bekommerd oor berigte dat die Mededingingskommissie transformasievoorwaardes ingestel het vir die plan om Curro-skole in ‘n organisasie sonder winsoogmerk te omskep. Curro bedien reeds meer as 70-duisend leerders, met 85-persent uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Die DA-lid, Toby Chance, sê hulle is gekant teen enige poging deur owerhede om hierdie werklike hervormende maatreël in ‘n swart ekonomiese bemagtigingsooreenkoms te omskep en sê dit sal rassisme onder die dekmantel van hervorming wees:
# Rugby: Springbok Sewes-afrigter, Philip Snyman, sê hulle wil die foute van Dubai regstel voor die naweek se wêreldreekstoernooi in Kaapstad. Die Blitsbokke het Frankryk in Dubai geklop voordat hulle teen Fidji en Argentinië vasgeval het. Hulle het Sondag egter teruggeveg om vyfde te eindig en 12 punte te verdien. Snyman sê daar was verskeie positiewe aspekte na hul teleurstellende openingsdag van die toernooi wat hulle al 11 keer gewen het. Hy sê hulle het genoeg om mee te werk wanneer hulle hul titel in die Moederstad verdedig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-913-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-189-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-89-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die Wes-Kaapse regering sê nis-toerisme is ‘n katalisator vir ekonomiese groei en werkskepping en spoortoerisme is besig om na vore te tree as een van die opwindendste geleenthede. Die sektor het in 2023 na raming 28,6-miljard-rand in brutowaarde tot die provinsiale ekonomie bygedra en meer as 257-duisend werksgeleenthede ondersteun. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê deur te belê in nis-ervarings soos spoortoerisme, skep die provinsiale regering geleenthede wat verder strek as ontspanning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….