Nuus 14:00
BULLETIN 8 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA lei met digitale advertensies onder SA politieke partye
# Die ATM is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid oor die maatskappy wat die ineengetuimelde gebou op George opgerig het
# En, tennis: Gauff sê ‘n medalje in Parys sal dieselfde beteken as ‘n Grand Slam-titel
# Die DA loop tans voor met besteding op digitale advertensies onder Suid-Afrikaanse politieke partye. Die party het verlede maand ‘n geraamde 2,7-miljoen-rand toegeken aan Instagram, Facebook, Google en YouTube. Net op 2 Mei het die DA 116-duisend-rand bestee aan advertering van sy amptelike Meta-rekening. Al is dit ‘n klein deel van die DA se oorhoofse veldtogbegroting, toon dit sy verhoogde betrokkenheid by sosiale media vergeleke met vorige jare. Die adjunk- federale veldtogbestuurder, Ashor Sarupen, sê dis belangrik om ‘n digitale teenwoordigheid te handhaaf.
Cosatu het intussen sy skok uitgespreek oor wat hy die DA se jongste truuk noem, wat die verbranding van die nasionale vlag uitbeeld. Die federasie sê dit herinner hom aan die DA se gebrek aan sensitiwiteit teenoor miljoene Suid-Afrikaanse wat die afgryslikste vorms van mishandeling onder apartheid beleef het. Cosatu sê die nasionale vlag is ‘n simbool van versoening. Woordvoerder Matthew Parks sê die DA se optrede ondermyn die land se gesamentlike pogings om die steeds pynlike wonde van die verlede te genees:
# Die African Transformation Movement is bekommerd oor die omstandighede rondom die ineenstorting van ‘n gebou in George en die gebrek aan deursigtigheid oor die maatskappy verantwoordelik vir die bouprojek. Die party bevraagteken aanspreeklikheid en voldoening aan veiligheid-standaarde. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê dit is ontstellend dat maatskappye nie dopgehou word nie, veral dié in wit besit, wat dikwels aanspreeklikheid vryspring:
# Die organisasie SA Suikerrietkwekers verwelkom die bevel van die Hooggeregshof in Durban wat Tongaat Hulett se verpligting bevestig om uitstaande heffings aan die suikerbedryf te betaal. Regter Rashid Vahed het die Suikerbedryf-ooreenkoms tydens Tongaat se sakeredding bevestig en verwerp Tongaat se appèl. Die ooreenkoms verseker die billike verspreiding van die opbrengs uit plaaslike suikerproduksie. Ondanks verdere moontlike appèlaansoeke hoop die organisasie die uitspraak sal kwekers se voortbestaan verseker te midde van uitstaande betalings.
# Tennis: Die Amerikaner Coco Gauff sê om ‘n medalje op die Olimpiese Spele te wen sal dieselfde wees as om ‘n Grand Slam-titel te beklink. Die 20-jarige Gauff sal haar Olimpiese debuut in Parys maak, nadat ‘n positiewe Covid-19-toets haar verhinder het om aan die vorige Spele in Tokio deel te neem. Gauff sal ook later die maand aan die Franse Ope deelneem, waar sy na haar tweede Grand Slam-titel sal mik nadat sy verlede jaar die Amerikaanse Ope gewen het. Die tennis tydens die Spele sal van 27 Julie ook op Roland Garros plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-402-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….