Nuus 14:00
BULLETIN 28 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Duduzile Zuma-Sambudla bedank as LP te midde van Russiese werwingsklag
# Cachalia beklemtoon ‘n dringende stryd teen georganiseerde misdaad
# En motorsport: Verstappen is op soek na ‘n driekuns in Katar maar Norris is steeds die F1-titel-gunsteling
# Die MK-party se leier en oudpresident, Jacob Zuma, se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, het vrywillig bedank as ‘n parlementslid. Dit volg nadat Chris Hattingh van die DA ‘n strafregtelike klagte by die Kaapstadse polisiestasie teen haar ingedien het, en haar suster, Nkosazana Zuma-Mncube, beweer het sy het 17 Suid-Afrikaners gewerf om vir Rusland teen Oekraïne te veg. Die MK-party ontken betrokkenheid. Die party beplan ook om gesinne wat geraak is te ontmoet en te help met die repatriasie van die Suid-Afrikaners.
Intussen is die ANC-Jeugliga bekommerd oor voortgesette bewerings teen die MK-party en sy leierskap oor hierdie berigte. Zuma-Sambudla en ander het na bewering ‘n groep van 17 Suid-Afrikaanse mans mislei om by die berugte Russiese huursoldategroep Wagner aan te sluit. Die mans is volgens berigte vasgekeer in die oorloggeteisterde Donbas-streek in Oekraïne. Die liga sê die gebeure skets ‘n beeld van ‘n party wat geen respek het vir Suid-Afrikaanse wet en etiese bestuur nie.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die bekamping van georganiseerde misdaad, insluitend bendegeweld en staatskaping, vereis algehele wetstoepassing, doeltreffende ondersoeke en vervolging. Cachalia het in Johannesburg gepraat tydens die bekendmaking van die misdaadstatistieke vir die eerste en tweede kwartaal. Hy beklemtoon georganiseerde misdaad bedreig openbare veiligheid, die ekonomie en nasionale veiligheid, met bendes wat geweld, korrupsie en ontvoerings aanvuur:
# Eskom verwelkom Nersa se besluit om ‘n markbedryfslisensie aan die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika toe te ken. Dis in aanloop tot volgende jaar se bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Grootmaat-elektrisiteitsmark, saam met nuwe reëls vir die toewysing van netwerkvermoë om regverdige en nie-diskriminerende toegang tot die netwerk te verseker. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dis ʼn belangrike mylpaal in die land se energiehervormingsagenda:
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull is op soek ‘n driekuns in die naweek se Katarse Grand Prix, terwyl vanjaar se Formule Een-wêreldkampioenskap kookpunt bereik in die Arabiese Golf. Dit lyk onwaarskynlik dat hy ‘n agterstand van 24 punte sal inhaal wat hom en Lando Norris van McLaren skei voor die laaste twee wedrenne van die seisoen. Norris sal in Katar aankom as die gunsteling om sy eerste titel te verower en McLaren se eerste dubbel-titel te beklink sedert Mika Hakkinen se sukses in 1998.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-558-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-163-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….