Nuus 14:00
BULLETIN 27 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê die diplomatieke krisis met Amerika kon vermy gewees het
# Hongkong se regering tree op na ‘n dodelike brand
# En rugby: Reinach speel Saterdag in sy 50ste toets vir Suid-Afrika teen Wallis
# AfriForum sê Suid-Afrika se diplomatieke krisis met Amerika kon vermy gewees het. Uitvoerende hoof Kallie Kriel het ANC-leiers gekritiseer omdat hulle oplossings geïgnoreer, die Iranse ambassadeur genooi en anti-Amerikaanse verklarings gemaak het. Hy vra beslissende optrede teen plaasmoorde en eiendomsregte, insluitend die veroordeling van die “Kill the Boer”-dreunsang. Kriel sê voorkeur moet gegee word aan plaasmoorde en dele van die Onteieningswet moet hersien word om eiendom te beskerm en bestendigheid te bevorder:
# Onderhoude kan nou gevoer word vir die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Die raadgewende paneel vir die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het ses name op ‘n kortlys geplaas nadat 32 aansoeke nagegaan is. Dit volg op ‘n beroep dat benoemings deur die Regspraktykraad verbreed word. Die ses is senior amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag, Nicolette Bell, Andrea Johnson en Adrian Mopp, die teen-korrupsie-spesialiste Hermione Cronjé en Xolisile Khanyile, en die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Menzi Simelane. Openbare kommentaar word nou ingewag.
# Die Referendum-party waarsku dat die Stad Kaapstad se nuwe ooreenkoms met Urban Think Tank Empowerment om informele nedersettings op te gradeer, verdere onwettige grondbesettings kan aanmoedig, dienste onder druk kan plaas, en die belastingbetaler verder kan belas. Robert King van die party sê die BT Soweto-projek bied duplekse, kommersiële ruimtes en gemeenskapsgeriewe, maar hulle glo dit beloon wetsoortreders terwyl dit toepassingskwessies ignoreer:
Nuus uit die buiteland:
# Die uitvoerende hoof van Hongkong, John Lee, het inspeksies gelas van alle behuisingsprojekte in die Chinese gebied waar omvattende opknappingswerk gedoen word. Dit volg nadat ‘n brand gister in ‘n openbare behuisingskompleks uitgebreek het waar opknappingswerk aan die gang was. Minstens 55 mense is dood en byna 300 word steeds vermis in Hongkong se ergste brand in minstens 63 jaar. Drie bestuurders van boumaatskappye is in hegtenis geneem op aanklagte van vermeende manslag en growwe nalatigheid. Lee sê die inspeksies sal veiligheids-toetse op steierwerk en boumateriaal insluit.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het verskeie gedwonge veranderinge aan sy span aangebring vir Saterdag se laaste Europese toerwedstryd teen Wallis in Cardiff. Albei spanne is sonder baie van hul eerstekeuse-spelers omdat die wedstryd buite die toetsgleuf val. Suid-Afrika se opdrafspan toon agt veranderinge en ‘n verskuiwing van die een wat Ierland verlede naweek geklop het, met die plaasvervanger-skrumskakel Cobus Reinach wat in sy 50ste toets sal speel. Kaptein Siya Kolisi, Ruan Nortjé, Jasper Wiese, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Canan Moodie, Damian de Allende en Damian Willemse bly oor in die beginspan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-717-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-155-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….