Nuus 14:00
BULLETIN 26 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie stel die Valke-offisier Senona se getuienis uit
# Vier-en-twintig ontvoerde Nigeriese skoolmeisies is terug by die huis
# En Rugby Australië beskryf Joe Schmidt as die wêreld se beste afrigter ondanks die Wallabies se treurmare
# Die Madlanga-kommissie het die getuienis van generaal-majoor Lesetja Senona van die Valke tot 27 Januarie uitgestel. Hy het bykomende tyd gevra om voor te berei nadat hy verbind is met die infiltrasie van die polisie- en justisiestruktuur. Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het Senona daarvan beskuldig dat hy die misdaad-sleutelfiguur Vusimusi ‘Cat’ Matlala bygestaan het om ‘n omstrede polisietender van 360-miljoen-rand te bekom. Die kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het die ooreenkoms tussen Senona en die getuienisleiers bevestig:
# Die staatsbeheerde instelling, Transnet, verwelkom ‘n lening van ses-miljard-rand vanaf die Franse Ontwikkelingsagentskap om sy ontkolingsdoelwitte te bevorder. Die volhoubaarheids-gekoppelde lening sal Transnet se oorskakeling na hernubare energie ondersteun, insluitend om jaarliks 300 gigawatt-ure se groen krag aan te koop. Dit sal ook spoorweg-rehabilitasie en hawe-vernuwing befonds. Die agentskap sê die vennootskap versterk Suid-Afrika se oorgang na lae-koolstof.
# United Africans Transformation sê Suid-Afrika kan nie voordeel trek uit globale vennootskappe soos die G20 te midde van swak leierskap, mislukte regering en chroniese infrastruktuurprobleme nie. Die party waarsku dat swak leierskap op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak ekonomiese herstel vertraag, openbare vertroue ondermyn en gemeenskappe sonder betroubare dienste laat. Kgotso Molokomme van UAT vra sterker toesig, etiese leierskap en beter bestuur om instellings te herbou en die land te help om op die wêreldverhoog mee te ding:
Nuus uit die buiteland:
# Nigerië se president, Bola Tinubu, het bevestig die 24 skoolmeisies wat verlede week in die Kebbi-staat ontvoer is, is vrygelaat. Die gewapende aanvallers het die Government Girls Comprehensive Senior Secondary School bestorm, ‘n personeellid doodgeskiet en 25 meisies ontvoer. Een kon egter kort daarna ontsnap. Meer as een-duisend-500 kinders is sedert 2014 uit Nigeriese skole ontvoer. Tinubu sê meer personeellede sal in kwesbare gebiede ontplooi word om nog ontvoerings te voorkom.
# Rugby: Afrigter Joe Schmidt het steeds die steun van Rugby Australië al het die Wallabies nie ‘n enkele wedstryd gewen op hulle Europese toer nie. Dit bring hulle nederlae vanjaar op tien te staan. Uitvoerende hoof Phil Waugh sê hulle het absolute vertroue in Schmidt, wat aanbly tot Les Kiss middel volgende jaar oorneem. Die Wallabies se nederlaag van 48-33 teen Frankryk het hulle eerste oorwinninglose Europese toer sedert 1958 afgesluit. Waugh beskryf Schmidt as een van die wêreld se beste breiers, indien nie dié beste nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-159-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….