Nuus 14:00
BULLETIN 20 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mogotsi se bewerings word voor die Madlanga-kommissie bevraagteken
# Human Rights Watch beskuldig Israel van oorlogsmisdade oor uitsettings uit die Wesoewer
# En tennis: Roger Federer word opgeneem in die internasionale heldesaal
# Die Madlanga-kommissie se mede-kommissaris, Sandile Khumalo, het die polisie se geheime informant, Brown Mogotsi, uitgedaag oor teenstrydighede in ‘n beëdigde verklaring in Februarie. Khumalo ondersoek sy adres in Soweto, teenstrydige geboortedatum en bewerings van Umkhonto-lidmaatskap. Khumalo merk ook op dat Mogotsi geen formele wetstoepassings- of forensiese opleiding het nie. Hy plaas druk op Mogotsi vir gedokumenteerde bewyse van beweerde ondersoeke, wat Mogotsi gesê het is nie beskikbaar nie:
# Cosatu het sleutelvoorstelle aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Indiensneming en Arbeid voorgelê oor maatreëls om die huidige vlaag afleggings te stuit. Die vakbondfederasie sê die ekonomie sukkel sedert 2008 om meer as een-persent per jaar te groei, met werkloosheid wat steeds gevaarlik hoog is op 42,4-persent. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê sleutelmaatreëls moet belastingkortings, nywerheidsubsidies en aansporings insluit, asook die regstelling van eindelose burokratiese rompslomp in die Werkloosheidsversekeringsfonds se Tydelike Werknemer-verligtingskema:
Nuus uit die buiteland:
# Human Rights Watch sê Israel se uitsetting van duisende Palestyne uit drie vlugtelingkampe aan die Wesoewer vroeg vanjaar kom neer op oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Die groep versoek dringende internasionale maatreëls om Israelse amptenare aanspreeklik te hou en verdere misbruik te stop. Human Rights Watch sê Israelse magte het tydens optredes in Januarie en Februarie ongeveer 32-duisend inwoners van die kampe Jenin, Tulkarm en Nur Shams met geweld uitgesit. Die ontwortelde mense is verbied om terug te keer en honderde huise is gesloop.
# Tennis: Die 20-malige Grand Slam-kampioen, Roger Federer, word in Augustus volgende jaar in die sport se internasionale heldesaal opgeneem. Die 44-jarige Switserse legende, wat in 2022 uitgetree het, het 103 toervlak-titels gewen. Federer is die enigste kandidaat wat genoeg ondersteuning in die spelerkategorie ontvang het om die heldesaal se klas van 2026 te haal. Spelers word vyf jaar ná uittrede oorweeg en moet deur 75-persent van die kiesersgroep aangewys word. Federer sê dis ‘n groot voorreg om op hierdie manier deur die sport vereer te word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-548-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-60-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-70-sent per vat.
# En laastens: Die Gautengse Gesondheidsdepartement versoek die publiek om antibiotika verantwoordelik te gebruik om antimikrobiese weerstand te bekamp tydens Wêreld Teen-mikrobiese Bewustheidsweek. Die departement sê die misbruik en oormatige gebruik van antibiotika is ‘n groeiende bedreiging wat dit moeiliker maak om besmettings te behandel. Gesondheidsbeamptes moedig burgers aan om voorskrifte te volg, nie medisyne te deel nie en goeie higiëne te beoefen om lewensreddende behandeling vir toekomstige geslagte te bewaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………