Nuus 14:00
BULLETIN 19 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die toerismesektor blom voor die G20-beraad
# Patrice Motsepe waarsku die misdaadbeeld benadeel Suid-Afrika se beleggingsaantrekkingskrag
# En rugby: Dan Carter is deel van ‘n sterbelaaide paneel aanbieders vir die loting van 2027 se Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika sal hierdie naweek meer as 42 bevestigde staatshoofde verwelkom vir die G20-leiersberaad. Sy beklemtoon meer as 135 sakegeleenthede en -vergaderings het reeds toerisme in al nege provinsies ‘n hupstoot gegee sedert Suid-Afrika die G20-presidentskap oorgeneem het. De Lille sê die sektor het verlede jaar 1,8-miljoen werksgeleenthede geskep, met selfs groter potensiaal onder die nuwe Toerismegroei-vennootskapsplan. Sy moedig besoekers aan om al die provinsies te verken:
Die mynmagnaat Patrice Motsepe sê intussen Suid-Afrika moet dringend iets aan sy misdaadbeeld doen om groter beleggings te lok. Hy het op die Bloomberg Afrika-sakeberaad in Johannesburg gepraat. Motsepe sê Suid-Afrika het enorme potensiaal met wêreldklas-ondernemings en -leierskap, maar veiligheidskwessies skrik beleggers af. Hy sê bestuurders wêreldwyd het gevra of hul gesinne veilig sou wees in Suid-Afrika, en hy waarsku die land se slegte naam kan sy ekonomiese ambisies bedreig:
# Die Presidensie sê dis noodsaaklik om die bruto vastekapitaalvorming te verhoog tot ongeveer 20-persent van die bruto binnelandse produk om Suid-Afrika se groeiteiken van drie-persent te bereik. Woordvoerder Rudi Dicks het tydens ‘n PSG-webinaar gesê Operasie Vulindlela-hervormings het reeds sowat 500-miljard-rand in beleggings ontsluit, hoofsaaklik in hernubare energie, telekommunikasie, vervoer en water. Sowat 1,6-duisend-miljard-rand word egter per jaar benodig om die beleggingsdoelwit te bereik. Dicks beklemtoon hervormings moet versnel word, insluitend die volledige ontbondeling van Eskom se transmissie-onderneming sowel as Transnet se hawens en spoorwegbedrywighede.
# Die Nasionale Energiereguleerder het begin met die hersieningsproses vir munisipale tariefaansoeke vir die 2026/27-boekjaar. Die tariewe sal na verwagting op 1 Julie volgende jaar in werking tree. Nersa sê alle munisipale tariefaansoeke moet vergesel word van koste-van-voorsiening-studies. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 12 Desember. Nersa’s Charles Hlebela sê hy is steeds verbind tot regulatoriese sekerheid, deursigtigheid en die beskerming van verbruikers en die elektrisiteits-voorsieningsbedryf deur middel van wettige en voorspelbare tariefprosesse:
# Rugby: ‘n Sterbelaaide span sal die langverwagte loting vir 2027 se Wêreldbekertoernooi behartig, wat op 3 Desember in Sydney, Australië, plaasvind. Die voormalige kaptein van die Wallabies, James Slipper, die All Black-legende Dan Carter, die voormalige Australiese sewes-ster Alicia Lucas en Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, is die aanbieders. Spanne sal van een tot 24 gekeur word op grond van hul wêreldranglys-posisies tydens die loting, en in vier afdelings van ses spanne geplaas word. Elke groep sal een span uit elk van die vier afdelings hê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-320-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-112-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….