Nuus 14:00
BULLETIN 17 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nedbank verwag Donderdag ‘n rentekoersverlaging van 25-basispunte
# Generaal-majoor Motsepe was onbewus van dossiere oor politieke moorde in KwaZulu-Natal wat na die polisie-hoofkantoor gestuur is
# En die polisie ondersoek die dood van twee atlete tydens die Ystermankompetisie in Mosselbaai
# Ekonome van Nedbank verwag Donderdag nog ‘n rentekoersverlaging van 25-basispunte tydens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se laaste Monetêre Beleidskomitee-vergadering van vanjaar. Die voorspelling volg nadat inflasiedata in Augustus laer as verwag was op 3,3-persent, wat hoër as die bank se voorkeur-koers van drie-persent is. Nedbank beklemtoon ‘n bestendige rand en algemene wêreldwye afname bied ‘n gunstige omgewing vir die verslapping van monetêre beleid. Daar is egter steeds gevare weens plaaslik-geadministreerde pryse soos elektrisiteit en die Amerikaanse Federale Reserweraad wat moontlik sy koers sal handhaaf.
# Die Inligtingsreguleerder het die Inkomstediens opdrag gegee om oudpresident Jacob Zuma se belastingrekords te openbaar. Daar is bevind die Ontvanger het geen regsgrondslag gehad om toegang te weier nie ná ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Die rekords het betrekking op die belastingjare 2010 tot 2018. Die reguleerder sê wetgewing laat nie absolute inligting-geheimhouding toe nie, veral nie waar oortreding vermoed word nie. Hy is bekommerd oor baie instellings wat steeds versuim om PAIA-handleidings toeganklik te maak en sê dis ‘n strafregtelike oortreding.
# ‘n Generaal-majoor van die polisie, Mary Motsepe, het die Madlanga-kommissie vertel sy was nie bewus daarvan dat dossiere oor politieke moorde in KwaZulu-Natal na die Misdaadintelligensie-hoofkwartier gestuur is vir ouditering nie. Sy het getuig sy het in Maart vanjaar op ‘n informele wyse die eerste keer daarvan gehoor. Motsepe het bevestig sy het later uitgevind dat beamptes die dossiere afgehaal, wat toe in die kluis van ‘n nasionale kantoor in Gauteng geberg is:
# Nooddienste in die Stad Tshwane sê geen ernstige voorvalle is aangemeld nie, maar donderstorms en swaar reënbuie duur voort. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het sy vlak 9-waarskuwing vir die provinsie na vlak ses afgradeer. Nooddienste se woordvoerder, Nana Radebe-Kgiba, sê oorstromings is steeds die grootste gevaar:
# Driekamp: Die polisie in Mosselbaai in die Wes-Kaap het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat twee deelnemers aan ‘n Ysterman-kompetisie gister dood is. Ironman South Africa sê die 29-jarige en die 58-jarige het afsonderlike mediese noodgevalle ervaar tydens die swemskof van die byeenkoms op Santos-strand, sowat 15-minute uitmekaar. ‘n Polisiewoordvoerder, Chris Spies, sê lykskouings sal later die week gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-503-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-83-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….