Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ondersoek na die intuimeling van ‘n gebou in George het begin
# Sadou vra die Basiese Onderwysdepartement om ‘n bevorderlike omgewing in skole te skep
# En, tennis: Die tienmalige kampioen Rafael Nadal begin sy Italiaanse Ope-veldtog teen ‘n kwalifiseerder
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het bevestig daar is begin met die ondersoek na die intuimeling van ‘n gebou in George. Onafhanklike ingenieurs is daarvoor aangestel. Reddingspanne hanteer vir drie dae die perseel as ‘n reddings-operasie, volgens internasionale standaarde. Die aantal sterfgevalle het intussen tot ses gestyg, met 47 mense wat nog vermis word. Winde het aan die media gesê die identiteit van die maatskappy wat besig was om die struktuur te bou, word weens voortgesette polisie-ondersoeke nie bekendgemaak nie:
# Sadou eis die Departement van Basiese Onderwys moet ‘n bevorderlike omgewing in skole skep waar onderwysers kan werk en die reëls toepas vir ongedissiplineerde en aggressiewe gedrag. Die vakbond eis geregtigheid vir diegene wat betrokke is by die onlangse skermutseling tussen leerders en ‘n onderwyser by die Hoërskool Glenvista in Johannesburg. Sadou se woorvoerder, Mugwena Maluleke, sê leerders moet in die klas wees en ouers moet toesien dat hulle kinders dissipline en waardes aanleer:
# Statistiek Suid-Afrika se jongste verslag toon ‘n toerismesektor wat sterk groei, met internasionale aankomste van Januarie tot Maart wat op 2,4-miljoen staan. Dit is ‘n toename van 15,4-persent vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Afrika lei die toestroming, met 1,8-miljoen toeriste uit Zimbabwe en Ghana. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, skryf die groei uit Ghana toe aan ‘n visum-kwytskeldingskema en geteikende bemarkings-veldtogte. Sy sê ander streke, wat insluit die Amerikas, Europa, Asië en die Midde-Ooste, dra ook by tot die uitbreiding van die sektor. Dit bewys Suid-Afrika se blywende aantrekkingskrag vir globale reisigers.
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Rafael Nadal, sal hierdie week sy Italiaanse Ope-veldtog teen ‘n kwalifiseerder begin. Die Spanjaard het in 2021 sy tiende titel in Rome ingepalm en is in ’22 in die ronde van 16 uitgeskakel, terwyl hy verlede jaar nie kon speel nie weens beserings. Hy gebruik tradisioneel die toernooi as die finale voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy ‘n rekord 14 keer gewen het. Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic, van Serwië, het ‘n loslootjie in die eerste ronde en kom in die tweede ronde teen die Rus Roman Safiullin of ‘n kwalifiseerder te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-962-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-13-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weermag beskryf die inwyding van die Verdedigings-kunsmatige Intelligensie-navorsingseenheid as ‘n belangrike mylpaal. Dit word gelei deur die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Mondli Gungubele, en is van stapel gestuur om K-I by verdedigings-operasies in te skakel. As die vierde spilpunt van die Kunsmatige Intelligensie-instituut van Suid-Afrika, stem die stigting van die eenheid ooreen met globale neigings in militêre K-I-gebruik. Besprekings by die Nasionale K-I-spitsberaad het klem geplaas op planne vir regulering om nasionale beleid aan te help en verantwoordelike inwerkingstelling van K-I te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….